Berge wankel nie

 



Een van die eerste Psalms wat ek as kind geleer het is die Bedevaartslied, Psalm 121. “Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom?”


Berge – Daardie skilderagtige blou en grys kurwes wat mens so in die verte sien wanneer jy op reis gaan. Al ooit gewonder hoekom hulle dan nou so blou en donker lyk van ver af, maar wanneer jy reg voor dit staan is dit 'n heel ander prentjie? 'n Verskeidenheid van kleure (bruin grond, groen bosse en bome, roesagtige rotse en soms 'n reënboogprag van klein fyn blommetjies) begroet jou wanneer jy voor daardie majestueuse reuse gaan staan.


Google vertel vir my dat die blou kleur te make het met die frekwensie van die lig wat jy sien. Blou is ook die kleur wat jou oog die maklikste kan raaksien. Hierdie hele blouberg affêre klink dan nou vir my al te bedrieglik. Dit het my gedagtes natuurlik ver en diep laat nadink.


Is dit nie maar wat bekommernisse en vrees vir die onbekende in ons as mens opwek nie? 'n Bedrieglike affêre wat ons snags laat rondrol en 'n aaklige holkol op ons mage tot gevolg het...


Vandaar sekerlik die geboorte van ons bekende bergidiome: 'n berg van 'n molshoop maak, of, die berg baar 'n muis. Hoeveel makliker sou dit dan nie gewees het as ons eers die molshoop kon sien en geweet het dat dit dan nou die groot berg is wat ons in ons gedagtes gekoester het nie. En daardie pasgebore, haarlose, piepklein ou muisie wat uit die groot bek van die berg kruip maak dat jy eintlik vir jouself wil lag omdat jy jouself in so 'n onnodige oorlewingsstryd gedompel het.


Moenie bekommerd wees nie...”, het die Meester vir Sy dissipels geleer, met 'n lang lysie van sake waaroor ons onnodig bekommerd raak (die sorge van die lewe),...”want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het.”


Wat? Ek sluk swaar. Die nasies van die wêreld! Wie is hulle? Diegene wat buite die Koninkryk staan, met ander woorde, die ongelowiges. Hoe kan 'n gelowige dan soos 'n ongelowige staan en optree? Nou voel ek soos Job - eerder lus om in sak en as te gaan sit. Hierdie saak is toe sowaar bedrieglik van aard. Verseker! Wie het ons bedrieg? Die vader van die leuen natuurlik. En as jy lank genoeg na sy bedrieglikheid luister dan word die molshoop 'n berg (natuurlik net in jou gedagtes). Die einste berg verander in 'n groot vreesaanjaende monster wat sy skewe tandlose bek wyd ooprek. Jy kan letterlik hoor hoe hy bulderend skreeu terwyl jy wag vir die gedrog wat enige oomblik daaruit gaan peul … en dan skrik jy natgesweet wakker...


Koning Dawid moes seker dikwels hierdie bedrieglike vrese gehad het. Hoeveel keer moes hy nie die berge in vlug en vir sy aardsvyande tot wie weet wanneer wegkruip nie? Juis daarom kon hy Psalm 121 met soveel oorgawe skryf.


Ons vind talle berge in die Bybel. Die eerste berg waarmee die leser kennis maak is Arrarat, die RUSPLEK waarop die ark tot stilstand gekom het terwyl Noag en sy gesin moes wag vir die vloedwaters om te sak. Verder vind ons Moria, die berg van VOORSIENING waarop Abraham sy enigste seun, Isak, moes gaan offer. Toe kom Sinai - GOD PRAAT – waar Moses die Tien Gebooie, geskryf met God se vinger, ontvang. Wanneer ons by die Profetiese boeke kom ontdek ons die berg Karmel waarop Elia die Baalprofete uitgedaag en DIE GROOT TOETS laat die vuur van God met 'n klomp mal afgodsdienaars afreken.


In die Nuwe Testament het berge 'n belangrike rol in die bediening van Jesus op aarde gespeel. Daar was die Berg van Verheerliking, HEILIGHEID, waar Jesus van gedaante verander het en Sy heerlikheid aan sommige van Sy dissipels getoon het. Jesus het ook gereeld na die Olyfberg, GEBEDSKAMER, toe ontvlug om met Sy Vader te praat. Nadat Hy druppels bloed in 'n Tuin gesweet het, het Hy die pad na die berg-heuwel Golgota, VERLOSSING, toe aangedurf. Aan die einde van tye, vertel die Boek van Openbaring, sal ons hierdie Oorwinnaar sien wanneer Hy Sy voete op die Olyfberg, FINALE OORWINNING, sal sit.


Skielik kry berge 'n nuwe perspektief in my gedagtegang. Berge is rusplekke, seënplekke, ontmoetingsplekke, heilige plekke, plekke van uitkoms en verwagting, plekke van 'n nuwe geboorte!


Waar sal my hulp vandaan kom? Ek kry die antwoord: “My hulp kom van die Here wat Hemel en aarde (en die berge) gemaak het.”




Comments