Ouvroustories

 


Al ooit gewonder hoe skewebek, vierkantige-oë kinders, sonder slukderms en met ore waaruit ranke waatlemoene groei, sal lyk?  As dit wel die waarheid was moes ek baie beslis so 'n tipe voorkoms gehad het tydens die era waarin ek opgegroei het.

Kougomkou was vir vele ouers en onderwysers 'n seer oog, en die waarskuwing dat jou derms sal knoop as jy daardie geurlose, deurgekoude, gommerige bondeltjie, wat jy van die een kies na die ander vir die laaste drie ure rondgeskuif het, sal durf insluk!  Die vreesaanjaende waarskuwing van waatlemoenranke wat by my ore gaan uitgroei het tot erge konsentrasie gelei om van al daardie swart waatlemoenpitte, sonder uitsondering, so gou as moontlik ontslae te raak.  

Hoeveel kere moes ek televisie kyk op een dag voordat my oë vierkantig sou raak?  En sou my oë weer na hulle oorspronklike vorm terugkeer sodra ek ophou kyk?  Of kan jou oog op die heilige Sondag onophoudelik begin bloei as die naald waarmee jy jou soom terug gewerk het, in jou oog insteek?

Hoe lank moes jy met jou nat hare rondloop voordat jy die gevaar staan om verkoue te kry?  Om nie eens te praat van die talle kere wat my slukderm 'n sprong in die swembad, met 'n vol maag, oorleef het nie!  Pampoen was nie juis my gunsteling groentesoort nie, maar ek wou ook graag krullerige hare hê soos ander dogtertjies by my skool.  Maar om een of ander rede wou die pampoen nie in my bloedstroom opgeneem word nie, en ek sit tot vandag toe nog met reguit pap vaalmuishaartjies op my kop...

Tydens my puberteitsjare was die lus vir sjokolade 'n groot stryd, want te veel daarvan veroorsaak kwansuis puisies.  En wanneer jy dan nou skelm-skelm saam met jou beste vriendin 'n hele kardoes vol daarvan verorber het, en jy tot jou ontsteltenis die nuwe rooi bult op jou voorkop gewaar, is jy bang dat jou ma hulle getel het en sal agterkom daar het ene bygekom.

Om nie eens te praat van Kersvader wat soet kinders beloon, die Paashaas wat sjokolade-eiers in jou tuin kom wegsteek en die vriendelike Tandmuis wat geldstukke vir jou wisseltande kom inruil nie - en onthou - hy hou nie daarvan om vrot tande vir die bouwerk aan sy huisie te gebruik nie!  Eet dan liewers jou gesonde spinasie wat jou ook super sterk soos Popeye sal maak en 'n oorvloed van beet sal jou wange met 'n natuurlike blos optower.

Wanneer jy wel jou gesig wou trek (veral as jou boetie sy rug gedraai het), sorg net dat dit nie om middernag gebeur nie, want as die horlosie twaalf-uur slaan, gaan jou gesig blykbaar net so bly staan! Dan gaan die hele wêreld weet dat jy disrespekvol was en jou boetie gaan jou elke dag daaraan herinner dat hy mooier as jy is en dat dit jou verdiende loon is...

Hierdie was maar alles taktiek wat ma's en onderwysers toegepas het om orde te handhaaf en aanvaarbare gedrag op kinders af te dwing.  Kom ons noem dit wat dit is:  Ouvroustories!  Ouvroustories was van die een generasie na die ander oorgedra en dit het al so deel van ons destydse era geword dat niemand dit ooit bevraagteken het nie.  Ek wonder nou diep watse Ouvroustories, indien enige, in vandag se huise en skole verkondig word? 

Gelukkig het kinders in vandag se era vir "google" waarmee hulle 'n volledige ondersoek na hierdie tipe taktiek kan loots!  

 

Comments

Post a Comment