Lewende Herwinning

 



Ek besef dat ek nou die gevaar gaan loop om my ouderdom weg te gee as ek die volgende slagspreuk met julle deel:  "Zap dit in 'n Zibi, Zap dit in 'n Zibi blik!".

Die wysie wat vir hierdie advertensie slagspreuk gedurende die 80's gebruik was, speel inteendeel nog in my kop.  Herhaal en herhaal en herhaal 'n wysie of woorde en dit steek in 'n japtrap in jou kop vas.  Zibi, die Volstruis, wat die ikoon van hierdie advertensieveldtog was, het op al wat 'n asblik is gepryk, amper soos 'n supermodel op die tydskrifrak.

Daar was selfs veldtogte by al wat 'n skool geloods, om kinders bewus te maak van die gevaar wat rommelstrooiing inhou en dat hulle trots moet wees op 'n skoon omgewing en land.  Die gratis Zibiplakkers met die volstruis wat jou bedank omdat jy jou rommel weggegooi het, het selfs op ons penneblikkies en skooltasse geland!  Ja ja, die land was in rep-en-roer oor ons eie ikoon Zibi, en selfs wanneer jy met vakansie vertrek het was Zibi orals lanks die pad en in ons dorpe te siene.

Veertig jaar later wil dit voorkom asof Zibi se nagedagtenis op 'n end gekom het - en diegene wat nou in hulle middeljare instap (ek inkluis) het lyk my heeltemaal tevrede geraak met die rommelgestrooiery waarin ons elke dag moet vaskyk.  Ek wonder sommer nou net hier by myself of dit enigsins 'n verskil sou maak as ou Zibi se vriendelike gesig nog orals te siene was.  Miskien kort ons 'n blink nuwe vars ikoon....

Nou dat ek mooi daaroor gaan nadink het, het ek tot die besef gekom dat Zibi wel voortleef in Herwinnings-embleme.  Ons ken almal die driehoek met die groen pyle wat kloksgewys by mekaar aansluit.  Of wat van die reënboogkleurige asblikke wat netjies in 'n ry geparkeer staan?  Blou, rooi, geel en groen.

Blou vir papier, rooi vir metale, geel vir plastiek en groen vir glas.  Reuse,groot, ronde houers met 'n reghoekige of ronde oop-bek, wag pure verniet vir ons om ons reeds gesorteerde herwinningsmateriaal uit ons motor se bagasieruim te laai en daarin te gooi. En wat van daardie "huisies" met al die elektroniese komponentprentjies wat bedoel is vir die pap batterye, ou gebreekte selfone, rekenaarmonitors, moederborde, transistors, ensovoorts? 

Ons gooi alles sommer so deurmekaar in die kombuisasblik. Die munisipaliteit verwyder ons afval weekliks, en as jy al die geleentheid gehad het om die stortingsterrein van jou dorp te besoek, sal jy die bewys van hierdie absolute pynlike rommelaffêre eerstehands ervaar.  Miskien het die tyd aangebreek vir ons regering om 'n Minister van Herwinnings- en Rommelsake te benoem wat die eertydse volstruisikoon weer kan laat herleef...  

Liewe maters, op hierdie punt wil ek liewers met julle gesels oor 'n ander tipe herwinning wat die sondige natuur ontbloot. Alle eer aan die Ikoon, Jesus Christus my Saligmaker, wat sowat 'n kwart eeu gelede my harts-stortingsterrein met Sy Lewende Herwinningskrag kom nuut maak het.  Ja ja, Jesaja 1 vers 18 sê, "Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu, en al was dit so rooi soos purper, dit sal word soos wol."  Die Rooi, Lewende, kosbare Herwinningsbloed wat gestort is vir jou en vir my...

"Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle 'n hart van vlees gee." (Jeremia 36 vers 26). Besef ons watse ongelooflike herwinningsgebeurtenis hierdie is? Daardie morsige en dodelike klip word herwin en vervang met 'n bruikbare en eervolle hart wat die Meester wil dien en liefhê.  So 'n hart kan nie maar sommer net 'n spul rommelagtige sake in sy of haar hart instort en nie omgee wat dit aan die Ikoon, hulleself en hulle omgewing van verhoudings doen nie!

Romeine 12 (vers 2) sê dat ons God moet vra om ons denke te vernuwe en dat ons nie aan hierdie sondige morsige rommelwêreld waarin ons leef gelykvormig moet raak nie.  Rommel moet elke dag gesorteer word - die besoedelde gedagtes in die blou asblik, die moordadige gevoelens in die rooi asblik, die afguns en jaloesie in die geel asblik, en die sondige woorde, doen en late in die groene.  Elke dag. Herwinning elke liewe dag. Op jou knieë en in die Lewegewende Woord van God. Laat dit ook in jou nageslag se gedagtes ingeplant wees, sodat wanneer hulle deur die rommelgemors van die sondige natuur beweeg, hulle ook die wysie en slagspreuk oor-en-oor in hulle gedagtes sal kan hoor:  "Ek kan hoor my Heiland roep my...neem jou kruis en volg My na...waar Hy lei daar sal ek meegaan...met Hom tot die end...lei Hy my soms deur beproewing...gaan ek met Hom...tot die end."



Comments