Die Ontruimingsplan

 



Jare terug toe ek nog op skool was het ons so af en toe 'n ontruimingsoefening gehad. Die skool se sirene het met sulke kort luie geloei en ons moes ons tasse oppak en vinnig, maar ook ordelik, na die verskillende ontruimingspunte toe beweeg. Ons het natuurlik vooraf geweet dat daar nie regtig gevaar was nie, maar ons moes dit inoefen vir daardie dag wanneer dit wel nodig mag wees.


Soms lees ons in die nuus van oorstromings of aardskuddings waar mense hulle huise moes ontruim. Het jy al gewonder hoe dit moet voel om alles wat jy besit binne enkele oomblikke te verloor? En as jy vyf minute het om jou woning te ontruim, wat neem jy saam met jou? Mens wil ook nou nie eintlik jouself in 'n staat van paranoia indompel nie, maar miskien is dit nie sleg om 'n soort van 'n ontruimingsplan vir jou en vir jou gesin te hê nie.

Miskien sal 'n lysie met die nodigste items wat gepak moet word en wat elkeen se verantwoordelikhede handig wees. Wanneer paniek slaan beskik die meeste van ons nie oor helder denke nie.


Sowat 'n maand gelede het ek gewonder wat klassifiseer mens as die “nodigste dokumente” waarvan my oudste seun gepraat het. Die veld teenaan ons woongebied was aan die brand, en met die sterk wind wat heeltyd van rigting verander het, het sommige inwoners reeds begin ontruim. Boeta stuur toe vir Ma 'n whatsapp-boodskap waarin hy die aanbeveling maak dat ek maar myself betyds gereed moet kry om te ontruim – ek en ons drie reuse woefers . My geliefde was nie tuis nie...


So gryp ek toe maar 'n skouersak en vaar die studeerkamer binne. Daar maak ek die mandjies op die lessenaar leeg, gooi die kas oop en druk 'n handvol leêrs in die sak. My hand wou die trommel propvol foto's en herinneringe ook saamneem, maar toe dink ek ook aan al die skilderye en geraamde foto's wat nog in die stoorkamer in hulle verpakkings staan (ons moet eersdaags weer verhuis), en ek besef dat ek voor 'n onmoontlike uitdaging staan. Die gedagte kom by my op dat ons wel versekering het om ons meubels en klere te vervang, maar foto's en skilderye wat elkeen sy eie storie van herkoms vertel, is onvervangbaar...


Jy kan niks daarvan saamneem nie”, praat die stem in my kop, “naak het jy in hierdie wêreld ingekom, en naak sal jy daar uitgaan...”


Ek gaan pak een ekstra stel klere en skoene asook 'n warm baadjie vir die wis en die onwis. Die sweet tap my nou al die hele dag af...maar hier by die kus kan die weer in 'n japtrap verander. Miskien moet ek dan maar een kombers ook saamneem, kom die gedagte by my op. Veral as ek vir lank in my motor moet wag met drie groot honde wat saam 90 kg op die skaal trek. Ekstra kos vir die woefe, water en ietsie vir my om aan te kou word laastens bymekaar gemaak. My handsak, beursie met bankkaarte, ID boekie, selfoonlaaier en rugsteunbattery, bosse sleutels en die noodhulpkissie is laaste op my lysie. Alles staan nou reg, maar ek gaan dit (saam met die tuigies en leibande) beslis nie nou al in die motor pak nie, want dit sal ons honde heeltemaal te veel hoop gee dat hulle saam met my op 'n uitstappie gaan.


Die res van die middag (sonder elektrisiteit, want die brande het van ons kragpale beskadig) het soos 'n ewigheid gevoel en die gemeenskapswhatsapp-groepie en die digte rookwolk daar buitekant sou bepaal wanneer, indien nodig, ek sal moet ontruim. Intussen wag my geliefde dat ek hom deurlopend op datum hou, want hy sou later daardie aand terugvlieg huis toe.


Gelukkig was dit toe vir ons net 'n “ontruimingsoefening” en met die genade van die Here en 'n fantastiese gemeenskap en brandbestrydingsspanne, was ons buite gevaar. Later daardie aand was my geliefde weer tuis (ons gawe buurman het die ompaaie lughawe toe namens my aangepak) en ons drie woefers was toe glad nie op 'n ontruimingsuitstappie nie. Groot dankbaarheid het my wese gevul en ek het opnuut weer aan die nietigheid van die mens gedink.


Ons moet tog nie verknog raak aan hierdie wêreld nie. Lot se vrou het die engele se ontruimingsplan geïgnoreer en in 'n soutpilaar verander omdat sy bly terugkyk het. Niks is vir die Here verborge nie. Hoe sal ek van Hom kan ontvlug? Watter tipe ontruimingsplan kan ons in plek kry om van Sy teenwoordigheid af weg te vlug? Die Psalmdigter stel voor dat hy Hemel toe sal vlug, maar daar is die Here ook. Hy skryf verder dat hy miskien na die ooste of die verre weste kan vlug (orals oor is die Here teenwoordig), of dat die donkerste duisternis hom miskien van die Here se teenwoordigheid kan verberg. Maar dit is alles tevergeefse ontruimingsplanne, want vir die Here is selfs die donkerste nag soos helder daglig en Hy sal jou vind!


Hy het my geken nog voordat ek in die geheim in my moeder se skoot gevorm was. Al die dae van my lewe het Hy reeds vooruit bepaal en in Sy Boek opgeteken. Daarom hoef ek vir niks te vrees nie! Selfs al moet ek ons ontruimingsplan implimenteer.


Hebreërs 9 vers 27 vertel vir ons dat die mens bestem is om een maal te sterwe en daarna kom die oordeel. Vir sommige van ons mag dit ook beteken dat ons nog lewend mag wees wanneer die Here Jesus terugkeer aarde toe om Sy Bruid te kom haal. Niemand gaan enige ontruimingsplanne kan deurvoer om van daardie besliste gebeurtenis af weg te vlug nie. Die Woord sê dat elke knie sal buig en elke tong sal getuig dat Hy die Here is, nieteenstaande of jy die Enigste Ontruimings-Reddingsplan ingeoefen het of nie...


En die Gees en die Bruid sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”

Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus!”

(Openbaring 22:17 en 20)



Comments

Post a Comment