Melodieë en Harmonieë


 

Ek is lief vir musiek. Van jongs af was dit deel van my lewe. Selfs voordat my ouers besef het dat ek 'n “oor” vir melodieë het, het my vingers die note van die klavier ontdek. Tannie San, my kleuterskoolonderwyseres, het my ouers laat weet om tydens die middagslaapsessie 'n draai by die kleuterskool te kom maak vir die “konsert”. Daar sit ek toe, my voete kon nog nie eens die pedale onder trap nie, en my vingers het die liedjies wat Tannie San ons geleer het gespeel: “Die vissies die swem in die water”, “Hop-hop-hop, perdjie loop gallop”, “Wielie Walie”, “Daar kom Koos die groenteman” en my gunsteling, “Ek ry met my rooi motorkar, saam ry ook my pop, en as ek by die rooi lig kom dan weet ek ek moet stop”. Groot was hulle verbasing. Dit was nie die een-een vingertjie wysie nie, maar twee hande wat die melodie en harmonie 'n werklikheid maak. Dikwels sou die ander maatjies rondom die klavier vergader om saam te sing.


My ouers was dadelik opgewonde oor hierdie nuut gevonde talent en my oupa het gehelp om 'n klavier, wat dateer uit die Tweede Wêreldoorlog, in ons huis te kry. My eerste formele musiekles was in 'n ouditorium waar jy voor 'n klein Yamaha orreltjie (met jou mamma lanks jou) gesit het en die Juffrou daar voor het vir almal van Middel-C geleer. Ons het ook elkeen 'n metaalblikkie gekry met notebalke wat in die binnekant van die deksel gedruk is. Binne in die blikkie was swart magneetjies wat jy op die notebalke moes neersit soos wat sy daar voor op die skerm vir ons gewys het. My ywerige handjies was nie tevrede om net Middel-C op 'n dekseltjie vas te sit nie. Ek wou speel, al my kleuterskoolliedjies, en die geleentheid daar in die ouditorium wou homself net nie voordoen nie. Gou-gou het my teëstribbeling om klas toe te gaan my ouers die handdoek laat ingooi.


Later jare, iewers in my laerskooljare, het my ouers die tweede musieklespoging aangedurf en my by Tannie Babette se Musiekskool ingeskryf. Daar kon ek darem regte musiekboeke kry, swart op wit gedruk, en partymaal was daar prentjies lanks die titel van die musiekstuk. Ek het kennis gemaak met G-sleutels, Bassleutels (en nee dit het niks met deurslotte te make nie), Molle en Kruise (klink na een of ander tuinplaag), en allerhande note wat meer na 'n wiskundeles klink as enigiets anders – Kwart note, Half note, Heel note en Agtste note. Ander nuwighede, tot my arme luisteraars tuis se irritasie, was Toonlere. Dit is wanneer jou vingers noot -vir-noot teen die “leer” opklim en afklim, oor-en-oor.


Soms was die oefen en oefen vir die volgende les nou nie juis my voorliefde nie, en gou het die Teorie- Eksamen my so op hol gejaag dat ons weer die handdoek ingegooi het. Ek wou speel met al twee my hande op die klavier. Ek het myself geleer om die linkerhand by te sit en note bly druk totdat die vals akkoord na iets aanvaarbaars begin klink het. Ek weet nie of dit my arme luisteraars tuis ook moeg gemaak het nie. Maar die vryheid wat ek gehad het om net te speel en om my ore kans te gee om te besluit wat mooi en reg klink , was al wat ek wou doen. Gou-gou het Tannie Babette vergete geraak en ek het so op my eie manier myself gehelp en al hoe meer bekende liedjies nagemaak.


Later van tyd het ek selfs die geleentheid gekry om 'n paar note saam met my ouer broer se “geraas orkes” te speel. Saterdae middae het my arme ma se sitkamer in 'n studio verander en my broer se vriende het hulle geraasinstrumente ingedra – 'n tromstel, elektriese kitare (blêrsnare), en 'n reuse Klankversterker. Die Beatles en Abba het nuwe status gekry en ek glo dat die bure (en honde) reg rondom ons gewens het dat die oefensessies op 'n end moes kom!


En so met die soete herinneringe van jare terug en die bekende klanke steeds in my kop, het my gedagtes weereens op loop gegaan terwyl ek so vir die klawers van my klavier kyk. Wit en swart. Kontrasterend, maar tog afhanklik van mekaar om harmonie te skep. Soms vloeiende klanke en soms kort vinnige note. My linkerhand is in beheer van die harmonie en my regterhand laat die melodieë vloei en so vind albei my hande hulle eie unieke reis oor die klawers.


Soms voel dit asof jy die musiek kan “voel”, want musiek vertel 'n storie. Vrye spel (om sommer net jou vingers spontaan te laat rol oor die swart- en wit klawers) laat jou toe om voor die klavier te gaan sit en jou emosies vrye teuels te gee deur net te bly speel, totdat jy voel jy het klaar met jou siel “gepraat”. Daar is geen reëls nie. Geen regte of verkeerde note nie. Net dit wat vir jou 'n innerlike vreugde en rus vir jou siel bied...


Musiek “praat” ook in die Bybel. Dawid, die man na God se hart, is sekerlik die beste voorbeeld. Sy openbare “loopbaan” het begin as “siele trooster” vir koning Saul se stormagtige, en soms demoniese gemoed. Wanneer Dawid vir koning Saul kom speel het, het die koning weer rustig geraak. Dawid kon ook uitbundig dans en sing – dink byvoorbeeld aan die dag toe hy met die luide geklank van die ramshorings voor die Ark van die Here uitgedans het. Baie van die Psalms wat deur hom geskryf is gee instruksies vir koorleiers en vir die begeleiding met snaarinstrumente. Terwyl hy koning was het hy het ook musikale Leviete aangestel om musiek by die Tempel te speel met harpe, liere en simbale. Daarmee saam moes hulle hul blydskap met 'n luide gejuig te kenne gee!


Geen wonder die arme Israeliete wat jare later na Babilon toe weggevoer was, was in so 'n vreeslike treurende toestand by die riviere van Babilon. Die Bybel vertel vir ons dat hulle droewig was omdat hulle ver van Jerusalem en hulle Tempel verwyder was. Hulle instrumente het stil geword en was aan die wilgerbome opgehang – hulle lofgesange en spontaniteit het in Jerusalem agtergebly... 

Psalm 137:5 "As ek jou vergeet, o Jerusalem, laat my regterhand dan homself vergeet!"


Jy kan nie musiek en emosies van mekaar losmaak nie. Musiek vertel 'n storie. Musiek is spontaan. Musiek kan die seerste hart troos. Musiek kan mense verenig. Musiek jok nooit nie. Musiek neem jou op ver ver reise en musiek bring jou tuis. Musiek is waar jou hart is!



Comments