Grense en Grendels

 



Vir die meeste van ons klink woorde soos grense en grendels na iets wat jou inperk en jou teen jou sin “gevange” hou. Ons dink grense vra vir toestemming en grendels hou nuuskierige agies in toom. Ons beleef hoe grense dikwels ons lewensreis beperk en hoedat grendels ons soms sonder antwoorde laat. Vir sommige van ons kan grense beslis uitdagend raak en grendels ons soms smorend laat.


Ek het diep gaan nadink en tot die gevolgtrekking gekom: Miskien is grense heel moontlik die begin en grendels die einde...


Ek moes eenvoudig na die regte antwoord soek...


My reis van bepeinsing het by my God begin – die Skepper van Hemel en Aarde. Die Bybel vertel vir ons dat God in die begin, tydens Sy ses-dag-wonder, veral op grense en grendels gekonsentreer het. God het skeiding gemaak tussen lig en duisternis en grense en bepaalde ure vir die twee ligte gemaak. Verder het Hy 'n grens tussen die uitspansel en die waters bepaal. Daarna het Hy die groot versameling van waters see genoem en dit gegrendel sodat daar 'n duidelike skeidslyn tussen die waters en die droë grond sou wees.


God het 'n baie spesiale boom gemaak, en 'n besliste grendel vir die mens gestel: “Daarvan mag jy nie eet nie, want die dag as jy daarvan eet sal jy serkerlik sterwe.” Die mens het die vryheid om na hartelus van al die ander bome te eet veruil vir 'n leuen en die grens van absolute vrede en volmaaktheid oorgesteek. Hulle het hulleself en die hele mensdom in 'n staat van hopelose verlorendheid ingedompel. God was teleurgesteld en kwaad – en die mens moes van daardie dag af 'n sterflike stryd begin voer teen grense en grendels. Die Tuin van Eden was nou taboe en die Boom van die Lewe was agter slot en grendel geplaas.


Jare later bevind die volk van God hulle aan die voet van die berg Sinai. Dit is die plek waar God met Moses, die nederigste man in die Bybel, gepraat het en met Sy Vinger die grense en grendels van die lewe op twee kliptablette ingegraffeer het. Die volk moes hulleself voor die tyd reinig en heilig maak en hulle was verbied om die grenslyn waar die berg begin, oor te steek. Sekerlik sou so 'n opstandige mens summier deur die Here self gedood word! So moes hulle in eerbied en vrees aan die voet van die berg bly wag solank die gesprek tussen God en Moses geduur het.


Daar is baie bladsye in die Ou Testament wat vir ons die drama en stryd van die mens skilder. Respek en vrees vir grense en grendels was altyd deur generasies geminag en telkemale het die mens verbete in sy hardnekkigheid volhard. Totdat God, die Almagtige en Regverdige Koning, ingegryp het en Sy Enigste Volmaakte Seun, wat nog nooit enige grens of grendel geminag het nie, na die gebroke wêreld gestuur het. Sy taak was uitluitlik om die wil van die Vader te doen en om vir die vele mislukkings en rebellie van die mensdom te sterf. En vir die eerste keer sedert die Tuin van Eden was daar genade sonder grense en 'n aanmoediging vir die mens om grendels te omarm.


Grense is vir die mens se beskerming en grendels skep geleentheid vir die mens om sy hoop en vertroue in God te plaas. Grense hou jou weg van skaamte en pyn, en grendels sus jou totdat jy stil en tevrede jou voorafbepaalde lewensreis aanvaar.


Ek het tot die volgende slotsom gekom: Grense is die Begin, die Skepping...

Grendels is die Einde, Hemel of Hel...

En tussenin is my voorafbepaalde lewensreis met grense en grendels...

Maar ek het 'n Redder, Wie gevul is met onbegrensde genade, en Hy het die grendel van die verdoemenis met Sy kosbare bloed vir my gelig!


Halleluja...wat 'n REDDER!


Comments