Skaduwees het my nog altyd gefassineer. As kind het dit my verbeeldingswêreld woes aan die gons gesit. Die tuin was my teater. Die plante my akteurs. Die ligte briesie die efftekte en die bure se grensmuur my dekor. Bome word drake, struike kabouters en die langsteelblomme slanke nimfe. Soms het die toneelspel onverwags 'n ander wending ingeslaan as die voëls 'n rusplekkie daar naby kom soek het.
Ander kere het ek net genot daaruit geput om te kyk hoe my eie skaduwee van vorm kan verander na gelang van hoe ver of hoe naby ek van die muur af beweeg. My eie woeste arm- en handbewegings het vir ure se pret gesorg teen daardie grensmuur. My skaduweegenoot se kop was ook dikwels versier met takke en blare vir haardosse en uitspattige hooftooisels.
Om nie eens te praat van die lawwe oomblikke tydens die vele mislukte pogings om op my eie skaduwee te kan trap nie. En wanneer my skaduwee agter my aangekom het, het ek hard probeer om onder dit uit te hardloop!
Die digter, A.G. Visser, gee nogals 'n raak beskrywing met sy gedig, Grondmannetjie. Die eerste strofe klink so:
“Grondmannetjie, ek sal jou kry!
Jy koggel en jy terg vir my.
Jy is my tot 'n las.
Al klop ek jou met die karwats,
Al spring ek weg, jy's veels te rats.
Jy klou my voete vas.”
Slaaptyd vir ons kleine mensies het ook soms 'n kort toneelopvoering teen die kamermure opgelewer. Ons hande het in voëls verander, of ons vingers het die gapende slaapmannetjie geword. Maar wanneer ons die lig afgeskakel het, was die konsert onmiddellik verby ... En wanneer die vreemde skadu's van die nag die mensies vreesagtig gemaak het, was slegs die aanskakel van 'n kamerlig nodig om die vrees stil te maak.
'n Paar gedagtes kom by my op. Lig staan teenoor duisternis. Die duisternis verberg die dinge wat ons in die Lig kan sien. En die Lig oorweldig die duisternis.
En so kon ons met die jare saam vir die kleine mensies wat langer gerek het verduidelik wat 'n skaduwee nou eintlik is. Die skaduwee van die voorwerp is net 'n onvolmaakte afbeelding van die werklike voorwerp. En ons kon vir hulle vertel van die Messias en Koning, Jesus Christus, wat die Volmaakte Offer is. Al die offers van die ou stelsel kon nie regkry wat hierdie Volmaakte Offer kom doen het nie. Die priesters se offerhandes was net die skadu's van die Werklike Voorwerp wat die mensdom se donker sondige toestand kon oorweldig.
Comments
Post a Comment