Die Pelgrim se Reis, 'n absolute moet-lees boek wat deur John Bunyan gedurende die 1600's geskryf is, het my onlangs weer diep laat nadink oor die Smal Weg (“The Narrow Way”). Die Bybel praat van die Smal of Nou Weg (waarvan die eindbestemming die Hemel is) wat in teenstelling staan met die Breë Weg (waarvan die uiteinde die Hel is), en dat diegene wat op die Smal Weg wandel baie minder is as die massas wat hulleself op die Breë Weg bevind. Die Bybel sê, dat diegene wat die Smal Weg vind in die minderheid sal wees.
Ek is mos 'n prentjiemens. So sit ek toe en vorm in my gedagtes hierdie nou paadjie wat eenkant op 'n verlate en onherbergsame deel van die aarde uitgelê is. 'n Baie eenvoudige, niks indrukwekkende pad en inteendeel een wat geen tekens toon dat dit vreeslik bewandel word nie. Die Nou Poort is die enigste manier om op hierdie baie belangrike Lewensweg te kom, en die Rigtingaanwysers is in baie duidelike en in eenvoudige Geestelike Welstandstaal aangebring. Die Pelgrims wat hierlangs stap stop gedurigdeur om die Rigtingaanwysers deeglik te bestudeer en om seker te maak dat hulle nog op koers is. Nie almal wandel ewe vinnig op hierdie Weg nie, en diegene wat vermoeid en belas raak word oralsteroor deur die wat sterker is aangemoedig om die Eindbestemming in gedagte te hou.
Ek het verder in my prentjiegedagtes gesien dat hierdie Smal Weg duidelike tekens toon dat die Pelgrims gedurende al vier Seisoene op koers bly. Somer en Winter, Koue en Hitte, Dag en Nag … altyd op koers. Hulle is soos bome geplant langs waterstrome, wat sy vrugte gee op die regte tyd en waarvan die blare nie verwelk nie.
In my gedagtes vorm daar ook 'n ander prentjie wat my baie bewoë maak. Reg langs hierdie Smal Weg is daar 'n gewoel en gewerskaf aan die gang – skynbare Pelgrims wat eiehandig vir hulleself 'n gemakliker en Fisiese Welvaartpaadjie grawe. Soms sal hulle met die konstruksiewerk stop en sommer ongemerk op die Smal Weg klim. So sal hulle wandel totdat die eenvoud en duidelike instruksies van die Rigtingaanwysers op die Smal Weg hulle nie meer beïndruk nie. Net daar en dan gaan hulle konstruksiewerk weer langs die Smal Weg voort. En so troos hulle hulleself dat hulle darem ook vir die Meester van die Eindbestemming lief is en dat hulle vindingrykheid en lewenservarings eweneens goeie Rigtingaanwysers is. Hulle is ook goedhartig en liefdevol en doen moeite om hierdie Aanwysers vir hulle Reisgenote op hierdie Welvarende Pad beskikbaar te stel.
Plant, oes en vrugte dra is skynbaar nie vir hulle belangrik nie. Pelgrims wat op hierdie Selfgemaakte Pad wandel voorsien hulle Volgelinge van keurige ingevoerde lekkernye wat aangenaam is vir die oog om te aanskou en wat die gemoed met die grootsheid van die lewe vul. Daar is ook geen Rigtingaanwysers te bespeur nie – slegs bordjies met Fabels en Fantasie Slagspreuke, wat gemeng is met sommige Waarhede van die Smal Weg. Die Bron van hierdie Slagspreukrigtingaanwysers dra die stempel van die “Spreek en Glo” Fabriek waar hulle vervaardig word.
My hart word seer en opnuut weerklink die bekende en geliefde Lied, “Bring my die ou-ou Tyding” in my gemoed...
Hierdie Lied was deur 'n evangelis gedurende die 1800's geskryf: “Bring my die ou-ou Tyding, die Tyding van Gods Heil...bring my die Tyding duid'lik, dat ek dit kan verstaan...Bring my die Tyding dikwels, want ek vergeet so gou...Lank voor die middaghitte smelt reeds die môredou...”
Die Leer van die Smal Weg is niks nuuts nie en as wandelende Pelgrim (genade onbeskryflik groot) roep ek opnuut dat elkeen wat hier lees kan hoor: Keer terug na die Waarheid, want die moontlikheid bestaan dat ons dit hoor, selfs glo, maar dan in geestelike selfvoldaanheid verval. Dit kan ons kort voor lank op hierdie uiters gevaarlike mensgemaakte paadjie, wat reg langs die Smal Weg gegrawe word, laat beland!
Spreuke 14:12 “Daar is 'n weg wat vir die mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.”
Die Here is goed. Laat ons die ou-ou tyding deel.
ReplyDelete