Ritmes en Roetines

 


Baie mense dink dat dit net die musikales is wat in ritme kan bly. Dis nou die ouens wat agter jou in die Kerk kan sit en jou nie van jou wysie afdwing wanneer die samesang plaasvind nie. Dan is daar diegene wat briljant is met beplanning en die stiptelike uitvoering daarvan – gedissiplineerd en streng volgens roetines...in teenstelling met diesulkes wat alewig moedeloos langs die hoop onopgevoude wasgoed gaan sit en wag vir die “organisatoriese gevoel” om gebore te word...


Ons is eintlik omring met ritmes en roetines, of ons dit nou wil erken of nie. Daar is vier seisoene in 'n jaar: somer, herfs, winter en lente. Elke seisoen duur vir 'n tydperk van drie maande en dit vind elke jaar in presies dieselfde volgorde plaas. Die son kom elke oggend op (wel op verskillende tye afhangend van die seisoen) en gaan ook elke aand onder. Die mens word gebore, word geleer, leer weer ander, raak te moeg om te leer of om ander te leer, en gaan dan weer dood. Saadjies ontkiem en word klein plantjies, die plantjies groei en groei, bloei en bloei, en verskroei aan die einde van die seisoen. Alles het 'n begin, 'n lewensvloei en 'n einde. Is dit nie maar niks anders as ritmes en roetines nie?


Ons gaan graag op vakansie om weg te kom van die daaglikse roetines van vroeg opstaan, werk toe gaan, kinders versorg en laataand doodmoeg in ons beddens inkruip, net om moreoggend weer presies dieselfde ritme en roetine aan te pak...


Ons maak gou ons spyskaart beplanningslysie vir die vakansie en dit word gevolg met die inkopieroetine – perfek in ritme sodat ons die klein bietjie tyd tot ons beskikking ten beste kan benut. Ons gaan die motor na (die roetinelysie om seker te maak dit is padwaaardig en veilig vir die kilometers wat voorlê). Ons werk die begroting vir die tydjie weg ritmies perfek uit en gaan weer deur die onthou-om-saam-te-vat lysie (ook 'n roetine saak wat aan die ander kant weer herhaal sal word om seker te maak dat niks agterbly nie).


Selfs die reis vind ritmies en in roetine plaas – wanneer ons waar gaan stop en wat ons gaan eet.


Uiteindelik kom ons by die eindbestemming aan en die motor moet afgelaai word en elke tas of houer moet ritmies, volgens roetinevereistes (eet, slaap, was en aantrek) in sekere plekke van die wooneenheid neergesit word. Die kinders mag nie die oord gaan verken voordat alles ritmies volgens elke roetinevereiste sy plekkie gekry het nie.


Veel later, met die kinders onder die voete uit, moet die oord se breekwarelysie wat agter die deur vasgesit is ritmies deurgegaan word om seker te maak dat alles heel en in die regte hoeveelhede in die kombuiskaste is. Dieselfde roetine sal gevolg word op die oggend wanneer ons weer vertrek om seker te maak dat ons nie vir enige skade moet vergoed nie.


En jy het gedink jy kom weg van die ritme en roetine van jou daaglikse lewensbestaan...?


Lewensritmes is eintlik glad nie sleg vir ons nie. Daar is goeie dinge waarmee ons onsself elke dag moet bederf – soos daai eerste koppie koffie waarmee ons ons oggend begroet. Het jy dalk 'n spesiale beker, 'n spesiale koffie, 'n spesiale hoekie waar jy alleen kan gaan sit?


My belangrikste ritme soggens is om my geliefde se hande saam te vat en saam te bid, en om die Woord van God oop te maak om my hart en verstand te voed met die Brood van die Lewe.

Nou dat ons lewensritme kalmer en rustiger geraak het, en ons semi-afgetree is, kan ons 'n aangename ontbyt roetine geniet (niemand maak beter omelette as my geliefde nie)!  Daarna kry ons drie honde hulle ritmiese roetine ritueel – 'n wandeling na hulle geliefde strand toe. Die res van die dag word verskillende ritmes en roetines gevolg en ons maak 'n punt daarvan om nie die asemrowende sonsak-vertoning mis te loop nie.


Wat van vriendskaps- en ondersteuningsritmes? 'n Absolute noodsaaklikheid en roetine wat ons almal na aan die hart moet lê. Daai vinnige teksboodskap net om in ritme te bly – hoe minder jy die ritme beoefen hoe meer begin jy afleer hoe om in ritme te bly. Ritme beteken om passievol te leef – maak oop jou oë, asem met diep hale in, eet wat lekker proe, bly beweeg (al raak jou skrarniere bietjie geroes), probeer ten minste een moeilike taak per week aanpak, en ry bietjie agter jou neus aan (dit is wanneer jy interessante en mooi plekke ontdek) – net 'n nota aan die manlike spesie: dit is hoekom ons vrouens daarvan hou om 'n nuwe winkel wat oopgemaak het van hoek tot kan te gaan verken!


Sit die buiteligte vannaand af en kyk na die sterrehemel.  Of grondves jou kaal voete buite op die koel gras en bestudeer ten minste een blommetjie – al is dit die geel enetjie wat wild tussen die onkruid groei.


Dank die Meester vir lewensasem en geleenthede – en bo alles vir Sy Ewigdurende Liefde en Geduld met ons as sondige skepsels. Sê dankie vir ritmes en roetines, al maak dit jou soms moeg, want die lewe is 'n dansende lied! En wanneer jy uit ritme raak, raak vir 'n oomblik stil, en omhels die roetine – gryp jou metronoom en volg die ritme na!




Comments