Die Wonder van Wolke

 



Wolke fassineer my. Wie van ons het nie daardie wonderoomblikke as kind beleef deur plat op jou rug die “Wonderwêreld” van die wolkformasies te lê en dophou nie? Dan het daar 'n hele sprokiekarakter-wêreld vir jou oopgegaan...drake, leeus en olifante met vlerke, 'n reus wat oopmond met sy eentandbek vir jou lag...


Daardie sterk verbeeldingskrag het my nog nooit verlaat nie. Ek wonder nogals of die ou wat met sy kop in die wolke loop nat hare het. Loop die ou wat dikbek is en sy bewolkte bui in sy gemoed vertroetel met verskroeide hare rond? En hoeveel van ons se ouers het nie al die “sê nou net” -verskonings beantwoord met, “...as die wolke val gaan ons almal blou kepse dra”, nie? En die wolk waarop almal se foto's gestoor word – lyk dit soos 'n biblioteek en word die triljoene prentjies alfabeties gerangskik? Is daar genoeg wolke vir 'n hele leeftyd se herinneringe ? En sê nou net van die ou foto'tjies land per ongeluk in een van die reënwolke?


Op 'n ernstiger noot – hierdie “cloud storage” konsep is heeltemaal te groot vir my middeljarige brein om uit te pluis. Ek plaas maar liewers my selfoon in die tegnologie “guru” se bekwame hande om my magdom herinneringe veilig in die wolk te gaan bêre. Gelukkig is my selfoon baie slimmer as ek, en hy weet presies op watter rak en in watter wolk my gunsteling prentjies gebêre is.


Tyd vir 'n Wetenskaples (my terugflitse van my laerskooljare):


Wolke is 'n versameling van waterdruppeltjies of yskristalletjies wat so lig is dat lugstrome keer dat hulle summier op die aarde neerplons. Ek het op daardie stadium gewonder of daar 'n net om so 'n samekoeking van waterdruppeltjies stewig vasgebind word sodat die druppeltjies nie grond toe val nie...

Kom ons skerp bietjie weer van daardie skoollesse op - daar is drie tipes wolke: cumulus-, cirrus- en stratuswolke. Ons moes hulle op die oop bladsye langsaan die geskrewe werk in ons werksboeke teken. Die hoop springmielies was my cumulus-uitgepofde-wolke, die krulletjies en veertjies was my cirruswolke en my stratuswolke was die onindrukwekkende streep wat veronderstel was om die lae misgevulde wolk voor te stel.


Wolke is eintlik maar net die bewys van 'n Waterkringloop wat deur 'n Verhewe Meester ontwerp is om die aarde te bevogtig en om mense, diere en plante afhanklik te maak van Sy genade en vrygewigheid. Arme Job was deur die Here se Wetenskaptoespraak tjoepstil gelaat toe die Here vir hom gevra het waar hy (Job) was toe die verskillende wolke gevorm was:

Het jy die kamers van die sneeu binnegegaan? Het jy die stoorkamers met hael gesien...

het die reën 'n vader, of wie het die doudruppels voortgebring?”


Job het maar sy hand op sy mond gesit en erken dat hy hopeloos te gering is om enige van sy aanklagte voor die Here te bring. Gelukkig het die Here Job se geduld by verre oorskrei en Hy het ekstra jare en voorspoed vir die vraende Job bygevoeg. Sekerlik het Job agterna daagliks na die verskillende wolkformasies gekyk en daardie onvergeetlike Wetenskaples aan sy kinders en kindskinders oorvertel.


Die beste kom nog! In Openbaring lees ons dat Jesus Christus weer sal kom, op die wolke, en dat elke oog Hom sal sien...ook diegene wat Hom deurboor het...en elke knie sal buig en elke tong sal erken dat Hy die Redder is. Wat 'n wonderlike wolk gaan dit nie moet wees nie? 'n Wolk wat geen wetenskaplike of verbeeldingryke brein al kon voorstel nie.


Kom Here Jesus, kom gou!”



Comments