Met ons onlangse middagwandelinge (ek saam met my geliefde en ons drie honde kinders) merk ek op dat heelwat sypaadjies met hopies afgesnyde boomtakke en stompe bedek is. So met die uitloop van die winter hoor mens dikwels die gekreun en gekraak onder die skreeuende klank van kettingsae. Ou takke wat nie meer statig kan pronk nie, en bome wat na jarelange diens nie meer skaduwee kan bied en tuistes aan voëllewe kan verskaf nie, word afgekap. Sommiges van hulle sal 'n simfonie word van laggende stemme rondom 'n tafel en 'n geknetter en gekraak in die vuurherd. Ander gaan die verottingsproses deurgaan en mag dalk weer heelwat later in iemand se blombedding beland as bemesting.
Bome is van groot belang vir ons ekologie en dit beslaan 'n groot persentasie van ons aardse biomassa. Bome produseer vir ons suurstof en vorm deel van die belangrike metabolisme in ons natuur van groei, sterf en hersirkuleer. Ons kan die aantal jare van 'n boom bepaal deur die jaarringe van die afgesnyde stomp te tel. Bome kan groepeer word as Immergroen (die blare bly groen en val nie af in die winter nie) of Bladwisselend (die blare verkleur in die herfs en val af wat die boom kaal laat gedurende die wintermaande). Daardie blare wat afgeval het vervul weer 'n balangrike rol in bemesting. Ons wil altyd gou die hark gryp en die blaarryke tuin opruim, maar die blaretapyt vervul eintlik 'n belangrike funksie in die bemesting van die grond en in die beskerming van klein plantjies en worteltjies gedurende die snerpende koue. Dit hou ook die vog binne en sorg vir 'n lafenis wanneer die sonnetjie begin bak en die eerste lentereëns nog nie geval het nie.
Dit het my diep en lank laat nadink oor die lewe en oor die woorde van die Prediker. “Elke ding het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar 'n tyd: … 'n tyd om gebore te word en 'n tyd om te sterwe, 'n tyd om te plant en 'n tyd om uit te roei wat geplant is...” (Prediker 3:1-2).
Die klein Jonge Boompie draai sy kroontjie na die son en beur elke dag hoër en hoër om net so hoog soos die Ou Grootte lanks hom te word. Hy wil ook graag sy takke uitsprei vir die voëls om in nes te kom maak. Of dalk wil hy ook ewe trots die tuisgemaakte boomhuis vestig waarin fluister stemmetjies planne vir hulle bende-oorlog beraam. “Toe nou Ou Kleine, neem die voedingsstowwe deur die grond op en wees geduldig. Daar moet eers baie somers en winters verbygaan voordat jy ook kan spog met sulke prestasies. Jy het nog net 'n enkele jaarring binne in jou stam.”, sal die wyse Ou Boom praat.
“Die woorde van mense met wysheid is soos skerp stokke, versamelde spreuke is soos spykers wat ingeslaan is. Hulle is deur een Herder gegee.” (Prediker 12:11).
En as die klein Jonge Boompie sukkel om sy nuwe lote regop te hou word dit met twee ywerige hande teen 'n houtjie gestut en met toue vasgebind. Soms wil die klein Jonge Boompie dwars trek en verkeerde kant toe groei, en dan sal die twee liefdevolle ywerige hande hom nader trek, stut en vasbind, totdat hy alleen op sy eie kan groei en sterk word - “Buig die boompie terwyl hy nog jonk is”, lui die Afrikaanse spreekwoord. Weereens gee Salomo kosbare raad vir ons as ouers in Spreuke 22:6, “Leer 'n jongmens om die regte pad te kies, en wanneer hy eendag oud is, sal hy nie daarvan afwyk nie”.
Soms kom die ruwe en ongenaakbare spore van 'n mensekind wat die klein Jonge Boompie se kroontjie plat kom trap en die weerlose Boompie lyk asof hy nie weer gaan opstaan nie. Maar soos in Totius se gedig van die doringboompie sal die Boompie se eie gom die salf word wat sy wonde heelmaak – die Boompie staan weer op en as die jare kom en gaan bly die merk deel van daardie Boompie se voortbestaan... Ons Meester wat aan 'n ruwe Kruisboom moes hang kom smeer ons beroude siele met die Reddingsgom van Sy Ewige Genade en maak ons siele heel. Ons dra dikwels die littekens van sondige keuses, maar met die genade van ons Redder hoef ons nie eendag die prys van daardie ondeurdagte besluite te dra nie.
En so kan ons dit met die lewe hier op aarde vergelyk. Ons almal het Groot Ou Bome in ons lewe wat raad gee en wat vir ons 'n belangrike voorbeeld voorhou. Dan is daar natuurlik diegene wat oor ons aangestel is om ons te buig en vas te bind wanneer ons wild begin groei en oorhaastig swaar vragte wil dra. Iewers moet ons ook koes vir die woeste spore wat ons kroontjies fyn en flenters wil kom trap, of soms steek ons ander onnodig met ons dorings...alles deel van die leerskool van die lewe. Net die Liewe Vader weet hoeveel jaarringe aan ons boom toegeken gaan word en wanneer ons finale neerlê gaan plaasvind. Maar tot tyd en wyl moet ons al ons dae goed aanwend en soos die Prediker sê: “As 'n mens lank lewe, moet jy oor alles dankbaar wees. Maar jy moet onthou dat die donker dae van die dood wat kom, ook baie is...Jy wat jonk is, moet vreugde vind in jou jeug en jou jong dae ten volle geniet...maar moenie vergeet dat God van jou rekenskap sal eis oor alles nie.” (Prediker 11:8-9).
Wees 'n Boom wat skaduwee vir ander kan bied wat moeg en uitgeput is van die lewensreis. Dra lekker soet, aangename en voedsame vrugte wat ander kan versterk. Wees vrygewig en ondersteunend en maak plek in jou takke vir diegene wat daar wil kom vertoef. Dra jou gegomde littekens met waardigheid en moet nie dat haat en onvergewingsgesindheid jou van binne verrot nie. En wanneer die gekreun en gekraak van die laatmiddag-jare aanbreek, bly glimlag oor die mooi en goeie jare wat verby is. Wanneer die Boom dan eendag val, op die plek en tyd wat lank reeds vooruit bepaal is, mag dit al die ander Bome juigend laat saamkom om fees te vier en dankie te sê vir die jaarringe wat met waardigheid en lof tot eer van die Here geleef is.
Comments
Post a Comment