Toe ons op skool was, min of meer 4 dekades gelede, het ons altyd van die “Stadsjapies” en die “Plaasjapies” gepraat. Vir diegene onder julle wat nou geen idee het waarvan ons hier praat nie (omdat julle heel moontlik lank na die sestigerjare gebore is) sal ek dit kortliks verduidelik. 'n Stadsjapie is iemand wat in die gerief en geraas van die rotteresies werk, woon en baljaar. Plaasjapies werk, woon en baljaar in die oop stil ruimtes buitekant die dorp.
Die Plaasjapies by ons skool het gewoonlik net naweke huis toe gegaan en moes die hele skoolweek in die koshuis bly. Ek het hulle altyd jammer gekry en gedink dis seker amper soos om 'n weeskind te wees wat in 'n tronk sit. Naweke kon hulle op “parool” gaan en moes dan slawe-arbeid sonder betaling gaan verrig – dit is hoe ek natuurlik gedink het.
Nou, nadat ons kinders groot geword het en ons begin wonder het oor die langdurige uitwerking wat die stadsjapiekultuur en die rotteresies op ons lewenskwaliteit het, het ons besluit om die oop stil ruimtes van die Oos-Kaapse kus ons tuiste te maak. Ons het baie gou daaraan gewoond geraak en ons voel beslis nie soos 'n weeskinders wat in die tronk sit nie. Ons is wel onderworpe aan slawe-arbeid, maar nie sonder vergoeding nie. Ons werk vir 'n maatskappy genaamd K9 en die drie direkteure spesialiseer in die vervaardiging van sandkastele. Ons werksure is ook baie buigbaar – meestal vroegoggend met laagwater. Die raadsvergadering (op ons bed met 'n koppie koffie in die hand) is gewoonlik van korte duur en die spreekbuis van die direkteure gee luidkeelse instruksies dat die slawe nou moet opstaan en stapskoene aantrek.
Tuigies, leibande en Oubaas se stewige greep (ons direkteure het nogals 'n sterk wil om so gou as moontlik op die strand te kom) is die volgende stap. Sodra ons voete (en die pote) sand raak word die leibande los gemaak. Vir die volgende dertig minute of wat word daar woes gespeel en die eens glad gespoelde strand dra die duidelike tekens van drie tuimelende en jubelende woefers wat met groot wye draaie om ons baljaar. Ek en Oubaas is tevrede met die vergoedingspakket – Sasha, ons Duitse Herdershond, kom maak kort-kort oogkontak en draf soos 'n skouperd om ons twee. Lilapot, ons meermin, boer in die rotspoeletjies waarin sy heen-en-weer swem terwyl sy die bodem fynkam vir klein vissies. Wanneer sy tot stilstand kom op 'n rots en hulle opmerk, roer sy die water met haar voorpoot in 'n poging om een van hulle te vang. Soms sal sy haar snoet in die water indruk – kompleet soos iemand wat besig is om te snorkel. Die op-en-wakker viskykertjie is beslis fantastiese vergoeding. En dan is daar ons kansvattertjie, Bolty, wat 'n oor-ywerige belangstelling in vrot aas en halwe visskelette het, en ons kort-kort die oorlogskreet moet uitroep: “Nee! Los!”
Hongerpyne en 'n behoefte vir 'n tweede koppie koffie kondig gewoonlik die einde van die baljaery aan en die terugtog word aangepak. Drie nat lyfies oortrek met los sand word weer vasgemaak en die opdraande terug huis toe word aangedurf. Met ons tuiskoms word daar so gou as moontlik gehandel met die afdroogproses, want die luidkeelse ene wil so gou as moontlik van sy hongerpyne verlos word.
Die res van die oggend word daar baie ywerig aan die vervaardigingsproses van sandkastele gewerk wanneer drie uitgeputte hondelywe orals in die huis op die vloere begin rondlê. Aan die einde van die oggend is die afgeslaapte hopies sand die sigbare tekens van drie tevrede honde-direkteure wat 'n opwindende oggend op die strand gehad het.
Comments
Post a Comment