Die meeste van ons behoort aan een of meer selfoon “Kletsgroepe” – 'n baie oulike en vinnige manier van inligting uitruil en saam gesels. Maar dit kan soms ook 'n pynlike, en hoogs frustrerende, ervaring raak.
Ons kry 'n kykie saam na prestasies en feestelikhede en ons kry nuus oor nuwe motors, huise en fieterjasies. Dan is daar ook natuurlik die hoogtepunte wat verjaarsdae, herdenkings, verlowings, bruiloffeeste en soms ook die einde van 'n lewe aankondig. Hierdie kategorie van “Kletsgroepe” staan bekend as die “Lief en Leed van die so-en-so familie” en ons spog, lag of huil graag saam op daardie groep. Ons ag dit ook as 'n voorreg en 'n besliste wil-nie-uitmis ondervinding op ons slimfone.
Dan is daar ongelukkig ook van daardie “Inligtings Kletsgroepe” wat deur jou woongebied of spesifieke uitbreiding gebruik word om belangrike omgewingsnuus, sekuriteitskwessies en beurtkragskedules aan te kondig. Dit is juis op hierdie tipe “Kletsgroepe” waar die konsternasies plaasvind. Weens die feit dat sekere mense daarvan hou om hulle stemme onnodig en aanhoudend te laat hoor, word die voordeel van informasie-beskikbaar-in-'n-japtrap, 'n pynlike en frustrerende ervaring. Nodeloos om 'n paar reëls vir die ordelikheid en sinlikheid van so 'n groep neer te lê, want daar sal altyd daardie handjievol kletskouse wees wat dit uiters moeilik vind om by die gedragsreëls te hou. Diesulkes word gereeld deur die administrasie aangespreek en gevra om hulle boodskappe te verwyder. Soms moet die pynlike maatreël van permanente-verwydering-van-die-groep toegepas word wanneer diegene wat nie wil hoor nie die gevolge van hulle konsternasies moet dra.
En so maak ons kennis met 'n hele aantal interessante karakters – wat of ons dag opvrolik, of wat 'n uiters vermoeiende uitwerking op ons het. Gelukkig hoef ons nie na hulle hele gesanik en knaendhede te “luister” nie, want jou slimfoon het 'n aan- en afknoppie. Jy kan selfs die baie voordelige “mute”, of te wel “stom”-toepassing gebruik, en die pynvolle 40 plus kragonderbrekingboodskappe doelgerig fynkam vir leidrade waarom jy dan nou alweer in die donker sit.
Graag sal ek 'n voorstel wil maak aan die sagtewarekoderingskomitee van “Whattsapp” om vir ons Kletsgroepgebruikers 'n sensorfunksie by te voeg. Ek sal graag sommige gebruikers se gekruide taal en onsmaaklike grappies wil stilmaak met apie gesiggies wat die ongewenste letters outomaties vervang (amper soos die gewaagde naaktydskrifte van jare terug wat met sterretjies versier was). 'n Verdere voorstel van my kant af is die byvoeging van 'n funksie wat die plasing van boodskapppies soos, “Lekker slaap julle outjies”,of, “Sê my as die krag aangaan julle want my genie (kragopwekker) hardloop”, outomaties blokkeer.
Miskien kan hulle ookwerk aan 'n manier om gebruikers wat sukkel om die oprolfunksie te verstaan, met 'n kort demonstrasievideo oor hoe om dit te doen, by te staan. Dit sal die hoeveelheid boodskappe wat getik moet word, om herhaaldelik te verduidelik waarom die krag of water van ons area af gegaan het, drasties verminder.
My geliefde skoonpa het 'n hele paar wyshede uitgespreek, soos byvoorbeeld, dat jy nooit met jou optrede ander mense moet te na kom nie. Verder het hy vas geglo daaraan dat jy nie van jouself 'n oorlas moet gaan maak deur jou langdurige gekuiery by iemand nie, en dat jy iemand moet weghelp as hy wil ry sodat hy weer lus sal wees om by jou te kom kuier. Baie wyse raad wat ons ook met “Inligtings-Kletsgroepe “ kan toepas: Dink voordat jy jou bydrae op die groep lewer en maak dit vir almal aangenaam en frustrasievry om die groep met jou te deel. As die kuier verby is klim asseblief in jou kar en kry jou ry!
Oulik gestel😀
ReplyDelete