Die Strandanalise





So met die vakansieseisoen hier op ons voorstoep in Port Elizabeth, en baie tyd op hande, het ek besluit om 'n analise (in gewone taal sal ons nou sê 'n deeglike ondersoek) te doen.  Om vakansiegangers te kan analiseer moet jy 'n goeie waarnemer wees en ook oor die vermoë beskik om 'n  geloofwaardige afleiding te maak.  Dan moet jy ook geduldig wees om jou inligting oor 'n periode te versamel en om nie toe te laat dat persoonlike voorkeure jou analise beïnvloed nie.  Hier volg dus 'n getroue en onbevooroordeelde opsomming van my strandanalise.

Wanneer ons vroegdag met ons drie hondekinders gaan wandel, hier onder by die getypoel (gratis en verniet - geen toegangsfooie, geen sekuriteit, geen kennisgewingborde, geen lewensredder en min asblikke) moet ons vir die eerste sowat 150 meter hoogtrap om die oorblyfsels van gister se gekuiery te vermy.  Boonop moet ons die omgewing vinnig fynkam vir gebreekte glasstukke en gedroogde beendere of skelette van die braaivleisoorskiet - honde hou van snuffel en kou!



Kom ons noem ons besoekers die Jorsies:



  • Jorsies is nie kieskeurig nie - hulle kan baie maklik vir 'n hele dag lank tussen ander Jorsies se gemorsies sit en kuier;

  • Jorsies besit nie piekniekmandjies nie. Hulle is baie innoverend en gebruik die "Three Ships" kartonboks om hulle voorrade in aan te dra;

  • Jorsies kan 'n vuurtjie op enige plek aanmekaar slaan en skenk hulle Webber braaier se deksel om die gloeiende kole te smoor (dalk wil ander slim Jorsies dit ook gebruik);

  • Jorsies het babas – gebruikte weggooidoeke kan maklik tussen rotse gebêre word;

  • Jorsies hou van Nik-Naks chips;

  • Jorsies eet graag lemoene;

  • Jorsies hou daarvan om met net een skoen huis toe te gaan;

  • Jorsies onderskryf 'n breker-bottel-breker ritueel – en hoe meer bottel-breker jy was hoe meer van 'n breker-bottel-breker was jy;

  • Jorsies besit nie asbliksakke nie;

  • Jorsies gebruik ligblou weggooibare maskers;

  • Jorsies gebruik toiletpapier as feesgety versierings;

  • Jorsies gebruik papierborde en plastiek eetgerei;

  • Jorsies is vergeetagtig wanneer hulle doodmoeg en pienkverbrand die Jorsie omgewing verlaat sonder om hulle gemorsies saam huis toe te neem;

  • Jorsies wil nie 'n skoon en aangename omgewing vir Anti-Jorsies gun nie.



    Ons word dus genoodsaak om ons gereelde vroegoggend wandelinge tydelik te staak (veral gedurende die Nuwejaarsvieringe). Hopenlik sal ons weer eersdaags ons rustige strandstappies kan voortsit wanneer die Jorsies weens gebrekkige fondsies finaal hulle ry sal kry.


Comments

  1. Die één plek waar daar duidelik geen Jorsies is in SA nie, is Yzerfontein! Laat ek nou vir jou die pragtige, silwerskoon, ongelooflike keurige kusdorp aanbeveel as julle ooit in die Weskus aan doen. Goeie munisipaliteit blykbaar en Anti-Jorsie inwoners wat bereid is om self hulle hande uit hul sakke uit te haal.
    Ek en Zander het nog nóóit só 'n skoon dorp in ons lewe gesien nie en die huise lyk asof dit gister gebou is, so goed onderhou en netjies jy kan jou oë nie glo nie!
    So daar's hoop, dis net baie skaars!

    ReplyDelete

Post a Comment