Spits daai ore!
Ek het die afgelope tyd baie daaraan gedink wat dit beteken om waarlik te luister. Soos die oumense gesê het: Jy het een mond en twee ore gekry; gebruik dit dus in die regte verhouding! In ons jare (dis nou toe ons grootgeword het) was jy nie toegelaat om in iemand se sop te val nie (dit beteken om iemand in die rede te val). Dit was as ongeskik beskou en kinders was boonop veronderstel om gesien en nie gehoor te word nie – ek moet darem hierop sê dat dit beslis nie 'n goeie “wet” was nie. Kinders moet juis in die geselskap van “grootmense” wees en leergierig wees en kans gegun word om ook vrae te vra.
Ons het jare terug 'n vriend gehad wat met groot skok, en 'n bietjie genot, vertel het van sy ervaring een oggend in die gang op pad na sy kantoor toe. Soos gewoonlik sou werknemers wat by hom in die gang verbystap vra hoe dit gaan. Die gesprek sou gewoonlik iets soos volg wees:
“Goeie more.”
“Goeie more.”
“Hoe gaan dit vanoggend?”
“Goed dankie. En met jou?”
“Kan nie kla nie, dankie.”
“Nou ja. Lekker dag vir jou.”
“Dankie. Vir jou ook.”
Op hierdie betrokke oggend het hy besluit om die bewoording effens te wysig toe daar na sy welstand gevra word: “Nie goed nie. My pa is gisteraand oorlede.” (Dit was natuurlik nie die waarheid nie, maar hy het moeg geword daarvoor dat die gesprekvoerders dit so in die verby-hardloop vra en dan die laaste sin insluk terwyl hulle hul kantoordeure oopstoot.) Het hulle werklik gewonder hoe dit met hom gaan? Of was dit nou maar net 'n gewoonte om dié tipe van ritueel elke oggend deur te gaan? Nodeloos moes hy staan en toehoor hoe sy gehoor die bekende rympie aframmel: “Kan nie kla nie, dankie.”
Daar het jy dit nou. Ons vra vrae en luister nie eens vir die antwoord nie, want ons het in ons gedagtes klaar die antwoord gekry en nou kan ons net eenvoudig aangaan met die rotteresies daar buite en die nodige rituele vir die oggend is afgehandel. Skrikwekkend...
Dit het my laat dink aan die lied, “Prayer Chain”' wat deur die “Gospel” sangeres, Wendy Fransisco, gesing word. Die doel van haar lied is om aan die luisteraars te demonstreer wat gebeur wanneer mense nie na mekaar se opdragte luister nie en ook sommer hulle eie stertjie daarby aanlas om dit meer dramaties te laat voorkom – soos byvoorbeeld in die geval van 'n telefoniese gebedsketting. Persoon A het 'n versoek en hy of sy skakel die eerste persoon op die gebedskettinglys en daardie persoon moet dan weer die volgende een op die lys skakel, en so gaan dit aan totdat almal van die belangrike versoek ingelig is. In hierdie liedjie het die pastoor iemand geskakel om vir gebed te vra omdat hy 'n seer keel gehad het. Aan die einde van die rondgeskakelry het die pastoor weer 'n oproep gekry van 'n baie bekommerde lidmaat wat hom meegedeel het dat daar groot nood is by iemand wat se huis besig was om af te brand!
Dan kry mens ook daardie uitputtende babbelkouse wat net oor hulleself kan praat. Hulle misbruik gewoonlik jou poging om ook deel te neem net om weer by hulle eie “prestasies”, of “pyne en skete”, of “ek weet beter van alles” uit te kom. Om nie eens te praat van daardie “helpers” wat jou sinne vir jou klaarmaak nie...
Ek het ook 'n broertjie dood aan diegene wat nie wil aanvaar dat jy haastig iewers heen op pad was, of aan daardie “kwartels” wat nie gehoor het hoe jy begin groet na 'n lang uitmergelende kuier nie. Hulle wil net gou nog die laaste storie vertel....
Daar is natuurlik ook 'n verskil tussen hoor en luister. En moet vir geen oomblik dink dit is net vir ongehoorsame kinders van toepassing nie. Om werklik te kan luister sal altyd die gewenste uitwerking hê – hetsy of dit is om jou iets te leer of om jou volle aandag op iets te vestig. Ons sal nooit te oud wees om iets nuuts te leer om iets af te leer nie.
Die apostel Johannes het in die boek van Openbaring die Here se woorde aan die sewe gemeentes neergepen, en telkens aan die einde van elke brief die volgende woorde gegee: “Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.” Verder lees ons in Romeine (hoofstuk 10 vers 17) dat geloof kom wanneer ons na die Woord van God luister. Dit is verseker die belangrikste gehooroefening vir elke mens: om waarlik te kan hoor wat die Gees van God vir die gemeente (en vir jou) sê. Ongelukkig gebeur dit ook dat mense God in die rede val met hulle eie menslike denke en herskryf van die Bybel om by hulle omstandighede of behoeftes aan te pas.
"Gee aandag en kom na My toe, luister, en julle sal lewe..." (Jesaja 55:3)
Comments
Post a Comment