Die lewe is 'n sirkel. Iewers is daar 'n begingpunt en iewers is daar 'n eindpunt - en die twee kom bymekaar uit, een of ander tyd, en dan is dit volmaak. Binne in hierdie lewenssirkel is daar baie sirkels; kom ons noem dit die verloop-van-die-lewe sirkels. Sommige sirkels is reeds voltooi en ander is nog besig om gevorm te word. Sommiges het waarskynlik nog nie eens begin vorm aanneem nie. Party sirkels is maar bietjie skeef of platgedruk, maar nietemin is dit nog steeds 'n sirkel. Vir party van ons val alles sommer vanself in plek en vir ander van ons is dit 'n diep soeke na daardie begin- of eindpunt van ons sirkels.
Om aan God te behoort is die belangrikste sirkel van my lewe. Iewers was daar 'n beginpunt - Hy het my in my moeder se skoot gevorm (52 plus jaar gelede) en my by my naam geroep - en die sirkel vorm nog steeds. Die eindpunt is 'n datum wat net Hy weet - maar ek weet verseker dat ek wel by daardie eindpunt sal uitkom - veilig en al jubelende om my Skeppergod van aangesig tot aangesig te kan sien. Hy is die Alfa en die Omega - die Begin en die Einde. Sal Hy iets begin en dit dan nie voltooi nie? Hy is die Skepper van my Lewenssirkel en my Ervaringssirkels.
In my versameling van sirkels is daar 'n baie prominente ene - pragtig en lieflik - my dierbare geesgenoot en liefdevolle manlief. Die twee sal een word sê die Bybel, soos Adam uitgeroep het, "Vlees van my vlees". Hierdie sirkel is kleurryk versier met drome, seëninge en mylpale, en hier en daar is die gebroke lyn gelap as gevolg van die mens se onvolmaaktheid en sondige natuur.
Ander sirkels in my lewe is moederskap, twee van hulle, familie en vriende, en 'n paar barmhartige Samaritane wat op die regte tyd oor my pad gekom het. Dan is daar natuurlik ook 'n paar dramatiese sirkels wat hier en daar verbyflits - die tye waarin ek geslyp is en geleer het en 'n beter mens anderkant uitgekom het (met die genade van my Skepper).
Ons kan baie leer deur na die sirkels van ander mense te kyk. Soms inspireer dit ons om hulle na te volg - en soms maak dit ons oë oop vir die gevare en teleurstellings wat ons gespaar kan bly. Alles is net genade op genade!
Een van daardie navolgvoorbeelde is ons "rescue" hond, Tala. Tala het sowat drie jaar gelede in ons lewens ingestap, erg getraumatiseerd deur haar vorige eienaars wat haar mishandel het, en het haar sirkel-van-die-lewe deel van ons s'n kom maak. Ons is die getuies van 'n liefdevolle kreatuur wat stelselmatig genees geword het van die wreedheid en genadeloosheid van mense wat veronderstel was om haar te koester en te versorg. Tala is gemaak vir die oop ruimtes - vir die veld en vir die strand waar sy vry kan hardloop en haar "vlerke" as te ware wyd kan oopsprei. Ons "bang" enetjie spring nou tussen die bruisende golwe in en huppel soos 'n wildsbokkie rond. En ons kan dit duidelik sien - 'n glimlag van tevredenheid op haar gesiggie - "Dankie my mense vir die geleentheid om net myself te wees."
Ons "drama queen", Duitse Herdershond, Sasha, was duidelik nie opgetrek met die verandering van haar eens rustige lewe en bekende roetine, toe ons vir die afgelope twee maande bokse gepak het en meubels met plastiek toegeplak het nie. Die trek Oos-Kaap toe het haar stil gemaak - het haar groot bruin oë veraend laat opkyk na ons kant toe. Die eerste week sonder die meubels het ook nie veel gehelp om haar tot rus te bring nie. Haar sirkel was eers mooi voltooi toe die bekende meubels met die "myne" reuke arriveer. Sasha se oë skyn nou weer sommer so geel van genot - veral as my oubaas my leiband van die haak afhaal...
En ons Bolty hond - hy leef sy sirkel eenvoudig net voluit. Maak nie saak waar hy is nie. Hy is ons dapper mannetjie - gebore met onvolmaakte heupe - maar te danke aan 'n barmhartige veearts-Samaritaan huppel hy deur elke oomblik van sy lewe en pak alles met oorgawe aan. Dankie Bolty, jy laat ons lag - uitbundig!
Ons kan baie leer wanneer ons 'n sirkelvlug neem oor al die sirkels van ons lewe. Ek is gevul met dankbaarheid en trots op elke sirkel. Die onvoltooide sirkels wag ewe geduldig om voltooi te word. Ons moet net daar wees...reg binne in daardie sirkels...daar waar ons hoort...en ons afhanklikheid van 'n Vader wat elke sirkel sekuur beplan het en sal voltooi.
Wow, kry sommer trane, en jy het so 'n mooi talent om die woorde net te laat vloei!
ReplyDelete