Die wasmasjien dilemma



Verlede week het iemand op 'n Whattsapp-groep gesê haar lewe voel op die oomblik soos 'n wasmasjien.  Dit het my gedagtes natuurlik op loop gesit en ek het allerhande beelde in my geestesoog gesien vorm aanneem - beelde van oorvol wasgoedmandjies en 'n wasmasjiendeurtjie wat oophang met die klam bondel wat deels uithang en tevergeefs wag om by die draad uit te kom...

Om hierdie fiasko behoorlik te analiseer en "moontlike"  aansporingstegnieke te vind, moet ons eers 'n bietjie gaan navorsing doen oor hoe so 'n "wasmasjienervaring" dan nou kan lyk.  

Ons almal kry sekere tye in ons lewens waar die holderstebolder, kan-nie-wag, alles-wat-kan-skeefloop, een-voet-op-die-sypaadjie-en-een-op-die-versneller,  huilende-baba-op-die-heup-en-roer-ook-die-kospot, telefoon-vasknyp-teen-die-oor, en 'n halwe-getikte-whattsapp-antwoord aan jou vriendin wat wil weet of sy haar kan-nie-vir-een-oomblik-stilsit woelwater more by jou vir die oggend kan aflaai... Skets maar julle eie prentjies hier.

Dis 'n feit soos 'n koei - as jy nog geensins met hierdie tipe van beskrywing te doene gehad het nie, gaan dit iewers in jou lewe manifisteer.  En hoe meer ysters jy in die vuur het, hoe groter is jou kanse om ook hierdie ervaring eerstehands te beleef.  Beteken dit dan nou dat ons liewers geen ysters in ons vuur moet sit nie en dat ons liewers vir veiligheidshalwe onsself moet isoleer van die res van die samelewing?  (Behalwe natuurlik as jy onlangs positief getoets het vir die corona virus.) Beslis nie!

Kom ons raak nou rustig en realisties hieroor:  Wasgoed moet gewas word. Punt. Agterstallige wasgoedbondels veroorsaak meer histeria en chaos as waarvoor jy kans sien. Punt. Pak die bul by die horings.  Doen alles wat jy aanpak met 'n lied in jou hart.  Dit kan ten minste jou gesindheid ook 'n hupstoot gee.  Niemand hou van wasgoed was nie.  Punt.

Daar is ook iets soos wasinstruksies om jou taak te vergemaklik en om te verhoed dat jy die hele oggend spartel om die duisende gewasde sneesdoekievlokkies uit die klere uit te skud...  

Om nie eens te praat van die vetkolle en vlekke wat ewe grootoog vir jou loer wanneer dit op die draad gehang word nie!  En daai opgebondelde kouse wat jy nie vooraf buite by die asblik gaan uitskud het nie, kan jou die gevoel gee dat jou kind eers deur "super glue" met sy kouse geloop het voordat hy buite gaan speel het.

Die woorde "delikaat", "slegs handwas", "koue water" en "was apart" word nie om dowe neute op etikette gedruk nie!  Kort voor lank staan jy verstom met 'n verskrompelde, splinternuwe truitjie, of 'n t-hemp wat skewebek tussen jou twee uitgestrekte hande hang, of heel moontlik die grootste ramp sedert die Tsunami tydens 2004 in Sumatra - dowwe vlekke op die res van die kledingstukke wat saam met jou splinternuwe swart denimbroek in een balie beland het!

Sorteer en prioritiseer.  Groepeer en kous-se-maat-beheer. Anti-kreukel obsessies.  Terug-in-die-kas elke slag.  

Hoe lyk jou bondels wat op die vloer lê en wag om deur die wassiklusse van die lewe te gaan?  Is daar iets in jou gemoedssakke gebêre wat jy eers moet verwyder?  Of is daar miskien 'n delikate saak wat met 'n bietjie meer teerheid hanteer moet word?  Watter "etiket-instruksies" maak dit vir jou moeilik om vir mense nee te sê?  Ja ja, kom ons wees nou maar dood eerlik op hierdie punt; ek praat van daardie uitputtende kandidate wat ure tyd het om jou in hulle netwerk van negatiwiteit en krisisbeheer oomblikke in te suig...Kompulsiwiteit, impulsiwiteit of sensitiwiteit kan jou ook baie maklik in daardie kreukelgevoel in dompel. 

Ek het heel onlangs 'n les van "reset" geleer toe my wasmasjien se elektronika die pad byster geraak het as gevolg van "load shedding".  My vriendelike, altyd geduldige vriend, "Google", het voorgestel dat ek die masjien by die muur afskakel en uitprop vir ten minste 10 minute voordat ek dit weer gebruik.  Sommer net so maklik?  En ek kan bevestig dat dit wel gewerk het maters.  

Dit laat ons dan met hierdie vraag:  Het jy al die "reset" knoppie probeer om jou "wasmasjien-agtige" dae en jou krisisbeheer oomblikke in oënskou te neem en om dan as te ware jou lewe beter te prioritiseer en om jou gekreukelde gemoed onder bedaring te bring?  

Kom ons kry daai wasgoedbondels bymekaar geskraap en begin sorteer, prioritiseer en etiketeer.  En as dit moet ... gebruik die "reset" knoppie - soveel kere as wat dit nodig is!  

Comments