Verliefde Vandaal


 

Ek het al dikwels gewonder wat die dryfkrag is agter daardie hand wat voorletters, die plus teken en hartjies teen bome of toiletdeure uitkerf of uitkrap...

Volgens wikipidia is 'n vandalis, wat hierdie "kunstenaars" definitief is, iemand wat opsetlik eiendom (en dit sluit die natuur in) wil beskadig, vervuil of selfs vernietig.  Volgens sielkundiges is 'n persoon wat hierdie opsetlike drang om skade aan te rig aan eiendom se optrede toe te skryf aan 'n toestand van verveling of woede.

'n Paar maande gelede het ek en my man die voorreg gehad om 'n bietjie te gaan uitspan in die Oos-Kaap.  As kampers gebruik ons gemeenskaplike badkamers en kort na ons aankoms het ek 'n draai daar gaan maak om my geriewe vir die volgende drie weke te besigtig.  In daardie klein toilethokkie het my oog dadelik die onbesonne gekrap van 'n tiener wat aan kalwerliefde, en blykbaar ook verveling lei, opgemerk:  "S" plus "J" is gelyk aan hartjie.  Sekerlik was dit nie veronderstel om een of ander vreemde wiskundige vergelyking met simbole uit te beeld nie?  Skynbaar het hierdie verveelde tiener met vandalistiese neigings die hokkie heel dikwels besoek en haar "oorspronklike" kunstegnieke behoorlik teen die deur uitgetoets.  

Ek kon nie anders as om te wonder of "J" geweet het dat "S" versot was op hom en of daar een of ander liefdesverklaring gemaak was en of dit net 'n verspotte tienermeisie-kalwerliefde-ervaring was wat haar daartoe gedryf het om opsetlik 'n skerp voorwerp te soek (miskien die naelvyltljie in haar smuktassie) en haar hart op die eiendom van iemand anders uit te stort.  Wat dryf 'n mens om jou diepste hartsgeheime op openbare geriewe se deure uit te blaker?

Met een van ons sandduin-uitklim-avontuurtogte besef ek dat verskeie verveelde of woedende vakansiegangers en histeriese kalwerliefde-tieners hulle uitkrap-tegnieke op die "Hou ons natuur skoon" bordjie doer bo uitgetoets het.  Die uitmergelende geklim van 'n byna 50-meter hoë sandduin kan tog nie verveling teweeg bring nie?

 Het daardie "vandaliste" met ander woorde al die pad afgeklim en weer teruggeklim gewapen met 'n skerp voorwerp?  Of word die sogenaamde kunsinstrumente by voorbaat saamgeneem,  net indien hulle weer een van hulle oomblikke beleef waarin hulle nie anders kan as om hulle dieptste hartsgeheime en "Ons was hier" uitroepe uit te kom blaker op private eiendom nie?  "Hou ons omgewing skoon" beteken ook verseker dat inligtingsborde nie bekrap (en ongelukkig ook gebuig en ingeduik) moet word nie! 

Ek voel erg beswaard... 

"Gekke en dwase skryf teen mure en glase" en blykbaar "verveelde en verwarde kalwerliefde-gevulde-tieners" ook.






  

Comments