Kom ons gesels 'n bietjie oor koors. Praat ons van kouekoors of warmkoors dan dink ons dadelik aan siekte. Kooikoors is iets waaraan tieners lei - dit is wanneer die wekker se sluimerknoppie die laaste sê het. Troukoors is wanneer die A tot Z lyste in jou huis rondlê en daar oor niks anders as die groot dag gepraat word nie. Opgaarkoors is iets waaraan mense lei wat dit net nie oor hulle harte kan kry om enigiets weg te gooi nie. Hulle gebruik altyd die verskoning van die moontlikheid dat dit of dat iewers in die toekoms handig te pas gaan kom. Inkopiekoors is een van die gevaarlikste koorskonsternasies op hierdie planeet. Vele mans het al sonder enige sukses probeer om hierdie koors te laat uitsterf.
Een van die dae (om presies te wees die 26ste Maart) herdenk ons die aanbreek van die gevreesde Kajuitkoors-epidemie. Wat is Kajuitkoors? Kajuitkoors is 'n simptoom en nie 'n siekte nie. Dit ontstaan as gevolg van 'n langdurige ondervinding van isolasie en inperking, soos wat ons met die Korona virus ondervind het. Dit het tot gevolg dat vele mense 'n gevoel van rusteloosheid, gebrek aan motivering en algehele toestand van hopeloosheid tot gevolg gehad het.
Die slim mense het met 'n sogenaamde 10 punt plan vorendag gekom om Kajuitkoors hok te slaan. Eerstens is dit belangrik dat jy sover moontlik binne jou daaglikse roetine van opstaan, bed opmaak, was en aantrek moet bly. Ek neem dus aan dat diegene wat aan Kooikoors lei dan juis met daardie roetine moet voortgaan. Blykbaar is dit tweedens die ideale tyd om kontak met die natuur te behou en om met jou huisplante te gesels. Ek wonder nogals watter tipe onderwerpe my plante sal interesseer en of hulle Afrikaans kan verstaan?
Verder is dit in die derde plek die ideale geleentheid om jou huis op te ruim. Vir sommiges beteken dit dan sekerlik om die laaie van jou buffet in die eetkamer te verlos van al die inkopiestrokies, ongeleesde posstukke, advertensiebrosjures van moontlike Inkopiekoorsbestemmings en gereedskap wat na die buitenste pakkamer moet verhuis. Vierdens is dit ook die ideale geleentheid om kreatief te raak. Miskien kan diegene wat aan Opgaarkoors lei 'n wenk hierin ontdek en daardie sakkie vol "miskiens" in iets kreatiefs laat verander.
Nommer vyf sê ons moet aan die oefen raak. 'n Gesonde liggaam huisves 'n gesonde gees! Vir diegene wat weinig belangstelling in hierdie tydverdryf toon, mag dit dalk 'n tipe spier-koorsagtigheid tot gevolg hê. Aanbeveling nommer ses moedig jou aan om nuwe resepte en geregte op die proef te stel. Terwyl jy dan nou deur jou versameling resepte begin rondkrap kan jy sommer stap nommer drie weer herhaal en die komplekse resepte wat jy gedink het jy dalk tog eendag sal nodig hê, summier in die asblik te smyt. Want sien, dit is dan nou tyd om waaghalsig te raak, en as daardie resep nog steeds nie die paal haal nie is dit tyd om daarvan afskeid te neem.
In die sewende plek moet jy tyd aan jouself spandeer en daardie storieboek wat jy nog altyd wou lees van die rak gaan afhaal en sonder om skuldig te voel jouself gaan gemaklik maak op die rusbank en jouself tussen die bladsye inwikkel. Dit kan natuurlik tot gevolg hê dat die res van jou huishouding in 'n chaotiese koorsagtigheid kan verander mits die dringendheid om die boek klaar te lees prioriteit begin word.
Die agtste teenvoeter vir Kajuitkoors is die een wat die meeste van ons sal geniet - verkeer sosiaal met jou geliefdes en vriende deur middel van die tegnologie. Sommiges neem hierdie raad baie ernstig op - in so 'n mate dat diegene begin lei aan die sogenaamde Toestelkoors-sindroom. Hierdie sindroom kan so allesoorheersend raak dat al die ander items op ons 10 punt plan sal sneuwel.
Nommer nege stel voor dat jy vir jouself 'n troeteldier aanskaf waarmee jy 'n hegte band kan vorm. Op hierdie punt sal daar sekerlik diegene wees wat aanbeveling nommer vier, naamlik kreatiwiteit, ernstig sal opneem en een of ander harerige gedierte met saamgestelde oë gaan uitkies vir geselskap.
Laastens kan jy 'n virtuele reis onderneem na eindbestemmings waarvan jy nog altyd gedroom het. Blykbaar sal dit die gevoel skep van 'n heerlike eksotiese vakansie en dit waarborg verder dat die Kajuitkoors waaraan jy begin lei het vir 'n wyle vergete sal wees!
Gun my die geleentheid om 'n laaste aanbeveling te maak. Hierdie is 'n baie gunstige tyd om Kajuitberaad te hou. Met jouself natuurlik. Tyd vir binneste opruim, gevoelens uitsortreer, prioriteite herrangskik en die sluit van 'n vredesverdrag met jou tydelike kajuit-omstandighede waaraan jy niks kan verander nie.
Ja nee!! Kajuitkoors, inderdaad. 'n Baie oulike stukkie met goeie raad. Ek gaan dit defnitief op my prioriteitslys plaas, Nettie.
ReplyDeleteSal pappa wasrsku wanneer mamma gaan begin uitsorteer en weggooi...darem weet ek hy is nie 'n opgaarder nie.
Delete