Het jy al probeer tel hoeveel keer jy al in jou lewe die vraagwoord "Hoekom?" gebruik het? 'n Derde van daardie hoeveelheid was beslis bymekaar gemaak tussen ouderdomme 3 en 6 jaar, kan ek jou waarborg...Daardie kleinmensies met die rondemondjies wat die arme jong Moeder laat smag na slaaptyd wanneer sy nie langer al die hoekoms hoef te antwoord nie...
Ek herroep 'n paar van daardie "Hoekoms" in my laerskooldae: Hoekom voel dae op die skoolbanke so lank terwyl dae van luilekker vakansie so vinnig verbyvlieg? Hoekom voel die pad na ons vakansiebestemming so lank, terwyl die pad terug huistoe soveel korter voel? En hoekom wil my langbeenpop se hare nie weer groei nadat ek haarkapster gespeel het en dit in 'n modieuse borselkop styl verander het nie?
Ja, en hoekom moet ek altyd my kamer afstaan as Ouma kom kuier, of hoekom mag ons nie die bottermes in die konfytbotteltjie steek as sy kom kuier nie? Of wat van die gewonder oor hoekom sirkustente en swembaddens altyd soveel groter lyk wanneer jy klein is. Die vreesaanjaende "Hoekom" wat die meeste van ons al geteister het is wanneer ons pa's sê dat jy jou pak gaan kry as julle tuis kom!
Tydens my hoërskooljare het my "Hoekoms" meer gedraai rondom die lengte van my voete of bene, of die puisies op my jong tienergesig, of die feit dat daardie oulike jong seun my glad nie eens raaksien nie. Een van my "Hoekoms" was ook 'n soeke na die voordeligheid van die memorisering van Geskiedkundige datums en plekname - of die totale onnodigheid om 30 langvrae uit jou kop uit te leer terwyl die onderwyser net 3 van hulle in jou toets gaan vra...
Gelukkig het die rebelliejare darem oorgewaai en vandag as volwassene (min of meer 35 jaar later) sien ek die lewe heel anders. As "afgetrede" tuisonderrigmoeder kan ek met 'n skoon gewete hier meld dat ek my kinders gemotiveer het om na die "Hoekom" vraag gestel is, self na die antwoord te gaan soek - dit het hulle heel dikwels gefrustreer - sodat hulle kon leer om vir hulleself te dink.
Hoekom Ma dan nou dinge op 'n sekere manier doen en gedoen wil hê het heel dikwels (en nou nog) op 'n doodloopstraat uitgeloop, en dan moes hulle maar tevrede wees met my alombekende leuse in my lewe: "There is always method in my madness".
Ek as Ma het wel 'n paar "Hoekoms" waarvoor ek na al my jare van leer en eksperimenteer nog steeds geen antwoord het nie: Hoekom raak wasgoedmandjies en skottelgoedwasbakke nie permanent leeg nie? Of my prima frustrasievraag - "Hoekom kan my huismense nie goed op die regte plekke bêre nie?"
My man het natuurlik ook 'n paar van daardie "Hoekoms" wat myns insiens ook op 'n doodloopstraat moet uitloop: Nommer een is die hoekom vrouens vir ure in die dorp kan rondloop en tuiskom met net 3 pakkies in die kattebak? Of hoekom die motor se brandstofverbruik aansienlik hoër is wanneer ons vroumene se skoentjies die brandstofpedaal getrap het? Regtig? Maak dit soveel saak? Is dit nie van groter belang dat ek nie die motor gestamp het nie en dat ek darem sorg dat ons yskas en koskaste vol proviant gepak word nie? Dan natuurlik sy meestervraagstuk oor hoekom ek as gasvrou my gaste terugstuur huistoe met bakke vol kos, maar wanneer ek soontoe oorgenooi word weier ek om iets terug te neem huis toe? Ek kan hom werklik nie uit hierdie dilemma uithelp nie, aangesien ek self ook nie weet hoekom nie.
Dan is daar natuurlik 'n paar lawwe "Hoekoms" wat ons almal weet natuurlik nie geldig is nie. Dit troos die gemoed wel, maar help nie regtig om by die kruks van die "Hoekom" uit te kom nie: En dit is hoekom die spieël in aanpashokkies jou altyd vetter en besaai met selluliet laat voorkom as met jou slaapkamerspieël tuis? Ook hoekom klere dan so dikwels in die was kan krimp?
Selfs Bybelkarakters het ook soms die "Hoekoms" ge-uiter, soos Die Prediker wat wou weet hoekom die mens dan nou eintlik sy lewe lank swoeg op hierdie aarde en dat alles maar net 'n gejaag na wind is? Hy vra ook hoekom al die riviere dan in die see inloop terwyl die see nooit vol word nie? Of hoekom die mens vir wie geld alles is net nooit genoeg geld kan hê nie, en dat die honger ook nooit permanent gestil kan word nie?
Job, die arme man wat die afgryslikste toetse moes deurstaan, het tonne "Hoekoms" na die Almagtige gebring en die uiteinde was 'n man wat in vrees en bewing sy hand oor sy mond gesit het en bely het dat hy oor dinge geredeneer het wat hy glad nie verstaan nie en ook nooit sal begryp nie.
Wat is die uiteinde dan van die "Hoekoms" in ons lewe, is die vraag? Ek wil ook soos Die Prediker sê dat ek oor alles nagedink het en tot 'n slotsom gekom het. "Hoekom" is nie noodwendig verkeerd nie. Ons leef in 'n era waarin baie informasie op ons skerms rondgestuur word en soms is dit nodig om met 'n "Hoekom" die gerugte van die feite te onderskei.
Soms moet ons ook vinnig besef dat daar sekere "Hoekoms" is wat jou fokus op die belangrike dinge wegvat en dat dit absoluut ook net 'n gejaag na wind is. Ook moet ons besef, soos Job van ouds, dat God verhewe is en ons is hier op die aarde en dat dit nie altyd vir ons beskore is om die "Hoekoms" van Sy soewereine mag en geregtigheid te begryp nie. Ons moet wel weet hoekom ons hier op aarde wandel: Om God te verheerlik en om Hom al jubelende as Saligmaker te dien al die dae van ons "Hoekoms" in hierdie lewe. Hoekom? Want, so sê die laaste versie in die Boek Prediker. God sal van ons rekenskap eis oor alles wat ons gedoen en gedink het, insluitende al ons "Hoekoms", ook oor dit wat in die geheim gedoen is, of dit goed is of kwaad.
Baie waar, Nettie. 'Hoekom?'sal altyd deel van die mens se lewe hier op aarde wees.
ReplyDeleteAbsoluut. Ons moet net daarmee saam tevrede wees met die kere waar ons nie die antwoord kry nie.
DeleteHoekom kan jy my nie help met die gasvrou vraag nie?
ReplyDeleteWant ek is ongelukkig nie op hierdie terrein bevoeg nie. 😆
DeleteDis baie goed opgesom, Antoinette!
ReplyDeleteJy laat my dink aan die Heidelbergse kategisme vraag: 'What is the chief end of man?' 'To glorify God.' Mag ons en ons kinders se soeke na antwoorde ook God verheerlik.
Absoluut waar. En dit is beslis 'n groot waarheid wat ons ons kinders moet leer. Ek het verseker die eerste vraag van die Heidelbergse Katigismes in gedagte gehad hier. Ek het eers baie later in my lewe die tweede gedeelte " and to enjoy Him forever" begin uitleef.
Delete