Die Inkopietrollie- dilemma


Ek het al heel dikwels gewonder oor die inkopietrollie-dilemmaEk is 'n vegter vir trollieregte en vir trollie-etiket.  Miskien moet ek en 'n paar van my gewillige vriendinne 'n vredeliewende optog reël waar ons as professionele inkopiegangers ons misnoeë te kenne kan gee met die afwesigheid van trolliewerktuigkundiges asook 'n oproep vir verpligte trollie-etiket opleidingsprogramme.

Ek gee graag 'n kort opsomming van my eie eerstehandse ondervindings, dilemmas, traumas en oorwinnings - hopenlik sal daar 'n paar van julle wees wat ook by my inkopietrollie-dilemma organisasie wil aansluit. 

Die eerste struikelblok waarmee ons te doene kry is om die regte keuse vir 'n trollie uit te oefen by die ingang van die supermark. My oog is nou al goed geoefen en so in die nader stap fynkam ek die trollies en maak solank 'n kort lys. Definitief nie die trollie wat soos 'n asblik lyk nadat die vorige gebruiker al haar gebruikte sneesdoekies, covid lappies, leë wegneem eteverpakkings en sommer 'n warm gebakte piesangskil daarin gelaat het nie.  Verseker ook nie die trollie wat een of meer kabelbinders het om dit aan mekaar te hou nie.  Gekraakte en tjierie-tjierie trollies sal beslis ook nie my kortlys haal nie.  Sodra ek my keuse gemaak het, word die trollie eers toetsbestuur alvorens dit die supermark binne gestoot word.  En glo my, as die wielsproring hopeloos is, word dit onmiddellik van die kortlys geskrap.  Net een vriendelike voorstel aan alle trolliegebruikers - kyk tog agter jou wanneer jy jou trollie in trutrat sit. 'n Kettingbotsing buite die ingang van die supermark is baie nadelig vir jou geduldgrafiek en kan jou hele inkopie- ondervinding baie suur maak nog voordat jy behoorlik begin het.

Die tweede struikelblok is natuurlik om jou handsteriliserings- en trolliesteriliserings tydsberekening perfek in sinkronisasie met ander wat die hoofingang nader, te bring.  Dit is op hierdie punt wat ek wil veg vir goeie hoofingangetiket en 'n apologie wil rig vir wees asseblief geduldig, jou beurt sal binnekort aanbreek.  Vir diegene wat bitter min tyd op hande het is daar deesdae die gerieflike aanlyn inkopie-ondervinding wat sommer tuis of in jou luukse kantoor gedoen kan word.  

Die derde struikelblok is wanneer die tannies wat mekaar lanklaas gesien het besluit om sommer daar in die ingang aan te gesels te raak en diegene wat wil binnekom en diegene wat uiteindelik die buitelug wil tegemoet gaan, blokkeer.  Asseblief dames - kuier liefs by die koffiewinkeltjie om die hoek of doer in die hoek waar al die leë bokse en kratte gestoor word.

Struikelblok nommer vier is "hou links en gaan regs verby".  Onthou daar is ook gangetjie verkeersreëls van toepassing hier.  Moet nie by 'n sperstreep (die tannie wat haar trollie onbeman in die middel van die gangetjie los) of blinde hoogte (die tannie wat haar agterstewe uitstoot en die onderste rakke tydsaam fynkam vir winskopies) probeer verby steek nie. Partymaal is dit raadsaam om maar jou dubbelparkeertegniek te gebruik en te voet verder in die gangetjie af te gaan om jou goedjies bymekaar te maak.

Nommer vyf kan heel dikwels hierna inskop - die skobbejak wat jou trollie, met jou leë inkopiesakke wat netjies voor opgestapel lê, kaap terwyl jy jou handjievol items te voet gaan soek het.  Dit is net op hierdie punt dat ek my items op die vloer neersit en navraag begin doen by moontlike ooggetuies.  Gewoonlik is hulle nie vreeslik behulpsaam nie en nadat jy so drie rakke verder die dief probeer soek, gee jy maar die stryd gewonne en keer terug na die hoofingang waar die hele soeke na 'n gepaste trollie en die steriliseringsritueel weer op jou wag.

Dilemma nommer ses is die minderjarige trolliebestuurders wat teen hoë spoed en skeef-skeef om die hoeke gejaag kom.  Hulle toesighouer is gewoonlik heeltemaal onbewus van hulle nageslag se onbeskofte en onverantwoordelike bestuursvernuf.  Dit is op hierdie punt waar jy maar remme aanslaan en seker maak jou tone en hakke is op 'n veilige plek.

Die sewende dilemma is wanneer die tannie agter jou geen volgafstand hou nie en jou hakke nerf-af ry.  Wat my nou dwars in die krop steek is wanneer sy salig onbewus (die hoë impak het 'n doef geluid veroorsaak) van haar lomp optrede by jou verbykom en so ewe haar lysie verder aanvul! Gelukkig met die nuwe covid- regulasies vind hierdie nerf-af trolliesbestuurders dit moeilik om by die kasregister jou verder te treiter.

Nommer agt is een van daardie dilemmas wat ek tot nou toe nie kan ontrafel nie. Dieselfde hoeveelheid items waarmee jy by die kasregister opdaag pas nie meer in jou trollie nadat jy daarvoor betaal het nie.  Dit versoorsaak dat jy baie versigtig die uittog na jou voertuig moet neem om te verhoed dat jy nie gedeeltes van jou boonste stapels lanks die pad verloor nie.

Nommer nege is die uitmergelende opdraande stryd na jou motor toe en die verdere tragedie dat die trollie waarin jou items nou ry beslis nie jou kortlys sou haal nie.  

Nommer tien:  AANDAG!! AANDAG!! Trollies pas nie tussen geparkeerde motors in nie en trollies veroorsaak duike en skrape aan my motor.  En onthou ook hiermee saam dat trollies oor geen handrem beskik nie en dat dit liewers na die parkeerhawe teruggeneem moet word.  

Ek ag dit my voorreg om die leser van hierdie skrywe te motiveer om hierdie tien kort trolliedilemmas met soveel moontlik ander trolliegebruikers te deel en saam -saam na moontlike oplossings vir hierdie trollietraumas te soek!



  

Comments