Wanneer ons kinders gebore word kry jy as ouer nie 'n temperaments-inligtingstuk nie. Al temperament van 'n pasgebore babatjie waarvan ek weet is huil, eet en slaap... Dus bevind ons onsself in die uiters bevoorregte posisie om 'n ontdekkingsreis te onderneem. Nou dat hulle volwasse manne geword het, kan ek agteroor sit en terugkyk na die Meester se Handewerk - die "puzzle" mannetjie en die "boksie" mannetjie het welliswaar iets gevind waarin hulle hul ywer en talente kan uitleef!
So was die "puzzle" mannetjie ook my weerligstraaltjie. Agt ure slaap was genoeg, ons moet gou weer daardie storie lees en dieselfde "puzzle" word ten minste vyf keer gepak. Sommer so van die middel af. 'n Mens pak gewoonlik eers die randte, sou ek met my tuisonderrigpassie vir hom vertel, maar hy kon welliswaar dit van enige kan af pak. Soms sou hy 'n ogie kom gooi waar Pa en Ma swoeg en sweet vir die laaste dertig minute (aan die 1 500 stuk) om die regte stukkie te kry - sy ogies vind dit in 'n japtrap en die handjie druk dit vinnig in met 'n "Daar's hy", opmerking.
Die "boksie" mannetjie het nie self opgestaan nie. Hy wou graag uitbroei - elke oggend was hy iets anders - die voëltjie of die dinosaurus. Hy sou gewoonlik knyp-knyp kom vra het vir "hoesyntjies", dis nou rosyntjies, en ek moes hom eers badkamer toe stuur - saam met die platgedrukte boksie wat nog in sy handjie vasgeknyp word. Hy was my dromertjie, die ontdekkingsreisiger wat almal frustreer het my sy handjie wat graag aan knoppies druk en wonder wat binnekant toebehore se "boksies" aangaan...
My "puzzle" mannetjie was die gelante heer wat Afrikaans suiwer gepraat het en wat ewe gestruktrureerd sy skoolwerk aangepak het. Die mondjie kon vreeslik baie vrae vra en wanneer hy regtig hard gekonsentreer het was die puntjie van sy vraende tongetjie deur toegeknypte lippe gestoot. En wanneer hy van punt A na punt B sou verskuif het was dit gewoonlik met vinnige weerligstraaltreëtjies gedoen. Later jare, toe die hol bene begin uitskiet het, moes hy menigmaal met 'n harde doef teen die kop leer dat hierdie hop-galop-stappie nie juis prakties is met deurkosyne nie!
My "boksie" mannetjie se mondjie was ook nooit stil nie - die suiwerste en innoverendste geluide kon daaruit stroom. Daar was altyd een of ander karaktertjie wat sy storie so tussen deur die skoolwerk deur opgevoer het. Soms moes mamma die "karaktertjie" aanspreek wat wellliswaar die astrante kêrel was wat die "boksie" mannetjie nie mag gewees het nie! Ook was hy my skillie skilpad. Nooit haastig nie. Daar was soveel dinge om te ontdek en te bedink van die slaapkamer af kombuis toe. En as ek sou vra waar is dit of dat wat hy moes saam gebring het, was dit natuurlik al klaar vergete nog voor hy sy reis aangepak het!
So het ek begin te droom oor hulle toekomstige beroepskeuses. My "puzzle" mannetjie sou iets moes doen wat streng reëls en dissipline verg - iets soos 'n vlieënier. Die "boksie" mannetjie sou dalk een of ander huishoudelike toestel ontwerper kon word wat soos in daardie Verimark advertensies sou sê: "En dit is nie al nie. Bestel vandag nog en kry die volgende gratis..."
Vandag, byna 'n kwart eeu later, kyk ek met trots na my "puzzle" man en "boksie" man wat hulle skoene volstaan in beroepe waarin hulle welliswaar hulle karakters en temperamente, wat nooit verander het nie, na hartelus kan uitleef en geniet.
Ma is trots op julle en innig dankbaar teenoor my Skepper vir soveel genade en vir elke kosbare herinnering met julle opgroeijare!
So kosbaar.
ReplyDeleteEk verstaan so met die hart wat jy hier vertel, mos ook my twee seuns getuisskool. En was dit nie die heel interessantste reis ooit nie! Hoe vreeslik dankbaar is ek vir die Here dat Hy dit ons gegun het om mekaar so op alle terreine te leer ken (en ook nou in hul volwasse lewens waar hul verantwoordelike werk doen)! Dis so aangenaam om jou aanlynjoernaal te lees, want ons praat mekaar se harts- en sielstaal.
ReplyDelete'N groot voorreg inderdaad gewees om soveel kosbare herinneringe te hê ~ en ook nou te deel met my nuwe vriendinne wat dieselfde "opvoedings passie " koester! Ewig dankbaar teenoor my Skepper.
Delete