Hande

 


Vanoggend was my gedagtes by twee belangrike instrumente in my menswees- gereedskapkis, my hande.  Feitlik geen mensweestaak kan sonder hierdie twee instrumente aangepak word nie.  Met ons hande versorg ons onsself daagliks en sorg ons ook vir ander in ons gereedskaptuiste.  Hande kan uitdeel, maar ook ontvang.  Hande kan rus, maar kan ook werk.  Hande kan wegkruip, maar hande kan ook luidkeels roep!  Hande kan vasdruk, en hande kan ook soms wegstoot.  Hande hou van skoon wees, en hande kan ook soms morsig en vuil wees.  Hande wat sluit versterk ons mag - en hande wat laat los verswak ons kragte....

Reeds gedurende week dertien van die ongebore baba se ontwikkeling het die hande elkeen 27 beentjies wat met ligamente verbind is. Die duim word in die mond ingestoot en gesuig.  Daardie selfde handjies maak vuisies wanneer 'n baba knus teen sy ma se bors rus en drink en soms sluit die kleine handjie stewig om jou vinger vas - ek en jy sluit 'n lewenslange greepverbond met ons kinders.

Later leer daardie handjies om 'n lepel vas te hou - ietwat onbeholpe - en die pad na die mond toe is soms nog soek.  Die helfde van die "vrag" land soms op die vloer, maar die onafhanklikheid van self soek en self kry is lewensbelangrik!  "Self" is soms skeef vasgemaak of "Self" moet nog baie leer van kleurskemas - nie te min - "Self" leer om onafhanklik te wees.

Daardie hande (soms taai en sweterig) streel oor jou hare en wys ewe trots die morsige skewe kriek wat hy uit die grond gered het!  En as die ogies saans onverwags toeval word die vuil handjies net so onder die komberse gebêre vir more se ontdekkingsreis.

Dan breek die tyd aan vir daardie hande om te leer skryf en boeke vas te hou en om te blaai.  Deesdae se hande leer van knoppies druk en skerms vryf.  Elke stap van die onafhanklikheidsreis word daardie twee hande geleer en vermaan.  Hande wat nie getem is nie kan baie skade aanrig.  Hande moet leer om geduldig te wag en om maklik uit te deel.  Hande moet ook leer om aan te gee en om te deel.  Hande moet ook doen wat lekker is en soms moet dit doen wat opoffering kos.  

Daardie hande moet van vroegs af geleer word om saamgevou te word in gebed en om opgehef te word na ons Skepper God in opregte dank vir Sy Hande wat deurboor is sodat ons vry gemaak kan word van die sonde en die dood.

Psalm 31:6 sê:  "In U hande gee ek my lewe oor, want, Here, troue God, U het my vrygemaak. "  Nie my wil nie, nie my hande nie Here, maar U wil en U Hande wat my hande lei.  As U my vrygemaak het sal U my ook lei en krag gee om my hande tot beskikking vir U te stel.

Vers 16 sê:  "My tye is in U Hand..." - Waar my hande hulleself ookal in my lewenssiklus bevind.  Hande wat ander voed en leer, hande wat ander kans gee om self te leer, hande wat ander troos en versterk, hande wat wuif en ander kans gee om nou hulle eie handereistog te begin, en hande wat stadig en pynlik raak, hande wat die pad nie meer so maklik kan vind nie en soms 'n gedeelte van die "vrag" op die vloer laat beland.  

Hande raak ook een dag finaal stil...wanneer die mense van jou gereedskaptuiste se hande joune vir oulaas kom vashou. En wanneer die hande koud en slap hang word dit liefdevol vir oulaas gestreel en gesoen en saggies onder die kombers gebêre...

"Vader in U Hande gee Ek my Gees oor.", het ons Meester uitgeroep! Bekwame Hande wat nooit Sy beloftes vergeet nie.  Daar sal my hande dan ook een dag hulle nuwe ewigheidsseisoen binnegaan en hulleself ophef na my Koning en my God wat my twee hande geskape en vasgehou het.

Comments