Die dag wanneer jou taak as opvoeder en versorger op 'n einde kom en jy vroegoggend die leë hakkies waaraan die motor- en huissleutels opgehang word aanskou ... dan begin jy jou volgende lewensfases bedink...of die klomp mansmense in jou huis neem die besluit namens jou.
Hulle was begaan oor die moontlike vereensaming van 'n eens besige moeder. Volgens hulle sou dit beslis beter wees as die taak aan een opgelê kan word wat ook bereid sou wees om deel van die gesin te word en Ma geselskap te hou.
So volg en toe maar die honde inkopieritueel saam met my drie omgeemanne en met die "ons gaan net kyk, verseker nie al vandag koop nie!", waarskuwing uit my mond voel ek darem nie hulle het my in iets ingedwing nie. Ek kan nog steeds nie verklaar hoe dit gebeur het nie, maar toe ek daardie sagte swart- en bruinbondeltjie eers in my arms opgetel het, het vier ronde pootjies my hart kom vul en die opdragte was vinnig uitgedeel. "Hou hierdie een vir ons, ons is oor twee ure terug. Ons moet die heining in die erf gaan beveilig, sy het 'n bed en kombers en bakke nodig." So bondel ons vier terug in die motor in en Ma raak nou haastig om haar hondekind te gaan optel. So het Sasha onverwags haarself in my hart ingebondel.
Gou-gou het die omgeemanne weer berraad gehou en tot die slotsom gekom dat Sasha nie daarvan hou om stoksielalleen die erf te beman wanneer ons iewers heen moet gaan nie. Ek volg toe ewe gedwee die tweede ritueel saam met my omgeemanne na die SPCA toe, want sien, ons kan kort voor Kersfees 'n uitgeworpene se lewe totaal verander. "Ek wil asseblief die hele geskiedenis hê en gaan nie een vat wat verniel en getraumatiseer is nie", het my moedermond gewaarsku. Die vriendelike tannie het gereken sy het net die een vir ons wat perfek by ons Sasha sal pas. Die wittetjie - ons Talila - die ene met die lomp hondepootjies en sagte ogies - het my hondehart kom verseker dat sy beslis haar voorbereide plekkie sal kom beman. Sy het ons gekies en die besonderhede van haar hartseer verhaal was nie meer belangrik nie. Sy het my nodig gehad - en ek vir haar...baie meer as wat ek ooit kon besef op daardie stadium.
Die derde ritueel wat 'n rukkie later gevolg het was die onverwagse ene. 'n Whatsapp-groep vir Verlore en Gevinde Vierpotiges kan baie gevaarlik raak - veral as jy begin loer na daardie parmantige, voor-op-die-wa Vierpotige wat op die "Gereed vir Aanneming" bladsy na jou roep. En ja ja, ons Bolty Boy het kliphard geroep! So het ek geleer dat 'n Vierpotige alles met oorgawe kan doen.
Ek het een dosyn Hondepote in my Hondehart. Hoe kry mens 'n Hondehart? Stap 1: Jy volg die omgeemanne se ritueel sonder om te lank daaroor te loop en top. Stap 2: Jy laat die Vierpotige toe om jou te kies. Stap 3: Jy beskou die lewe 'n bietjie uit 'n hond se oog- en pootpunt uit. Stap 4: Jy laat die Vierpotiges toe om deel van jou huis en jou lewe en jou roetines te word. Stap 5: Vergeet van die woord "nooit". Stap 6: Hare en modder kan skoongemaak word. Stap 7: Jou foon se geheue is te klein vir al die foto's. Stap 8: Gate grawe en papiere opskeur is onskuldige tydverdryf. Stap 9: Jy betree die geheim van onvoorwaardelike liefde en vriendskap. Stap 10: Blaf en lag pas bymekaar.
Ek probeer so min as moontlik daaraan dink dat daar ook 'n dag sal aanbreek waar ons afskeid sal moet neem en die een dosyn pote sal vergaan en net 'n versameling van herinneringe in my Hondehart sal oorbly.
Comments
Post a Comment