Pil, Piller, Pilste

 


Ek het opgegroei in 'n huis waarin die medisynekas 'n hele muur in die badkamer beslaan het!

En die rakke was mooi gemerk met plakkertjies waarop ek die name van diagnoses kon aanleer -

Iets soos hoofpyn, naarheid, diarree, krampe, keelseer, loopneus ...

En dan was daar diagnoses waarvan die uitspraak ietwat moeiliker was -

Iets soos spastiese kolon, postnasale drup en boonste lugweg infeksie ...

Ek was natuurlik belet om myself te diagnoseer en apteker te speel ... al het daardie rooi suigstokkies om 'n seer keel te streel baie aanloklik gelyk.

Jy mag nooit onder enige omstandighede vir kindertjies vertel medisyne is "njammies" nie !

So het ek toe heel dikswels gewonder hoe hierdie pille, veelkleurig en met verskillende vorms, weet waarheen om te gaan nadat jy dit in jou keel afgewurg het...

In my kinderverbeelding het ek 'n prentjie van 'n klomp deurmekaargevlegde paadjies gesien en 'n hoop pille wat verward begin ronddryf, elkeen opsoek na sy afdraaibordjie...

Waar is die afdraai na Hoofpynstraat? Of waar is Naarheidstraat? Wie moet voorrang geniet as Diarree- en Krampestraat dan saam moet loop? Mag die postnasale pil indruk voor die keelseerpil, want sien, dit is as gevolg van die postnasale drup dat jou keel seer is?

En so het ek maar gewonder.  Baie jare later het ek gehoor dat pille so oulik ontwerp is dat hulle so saamgestel is om op verskillende maniere deur die liggaam opgeneem te word, sodat hulle presies by die probleemarea kan uitkom, net betyds...

Vandag het ons ook die tegnologiese voorsprong van 'n vinnige klik van jou muis op "google" en jy kan sommer in 'n japtrap agterkom wat jou nou eintlik makeer. Sommiges waarsku egter dat dit baie gevaarlik kan wees; veral as jy jouself op sterwe laat lê. Wees dus gewaarsku!

Bogenoemde tuis-medisynekas diagnoses is dan "Pil" - die een wat jy sommer self by die toonbank kan gaan vra nadat jy jou probleem gaan naslaan het op die kwale webruimtes, of met jou buurvrou oor die heining gesels het, of in die Sarie tydskrif deur kundiges aanbeveel is.  

Wanneer jou postnasale drup versleg en jou kop voel asof iemand jou met 'n tienpond hamer gemoker het en jy al vergeet het dat jy deur jou neus kon asemhaal, is dit tyd vir "Piller" om in te tree.  Hiervoor moet jy 'n afspraak by jou huisdokter maak om daardie voorskrifnota, met 'n handskrif daarop wat slegs aptekers kan ontleed, te bekom.  Volg die instruksies nougeset, klim in die bed en rus vir 'n paar dae, en dan behoort jy weer self reg te kom.  Daar is sekere toestande soos bloeddruk, of te wel, hipertensie, diabetes en asma, wat liefs deur hierdie "Piller" roete as die "Pil" roete moet gaan - anders mag jy dalk op sterwe lê. Wees dus gewaarsku!


En dan kry mens natuurlik ook die "Pilste" roete. Dis nou waar jy die rakke van Dischem en Clicks invaar en jou eie toer, of begelei deur die tannie met die "Ek is hier om jou te help" glimlag, jou vitamien- en boereratemandjie aanvul.  En voor jy jou oë uitveë is jou hele maand se begroting in sy kanon in met die handevol botteltjies met beloftes wat te goed is om waar te wees.  Nogtans gaan jy die kans waag. Vir eens in jou lewe wil jy in die oggend uit jou bed kan opstaan sonder om uit dit te kruip en te snak na jou asem om in 'n regopposisie badkamer toe te strompel!


Jy kan selfs heeltemaal dapper raak en die gesondheidsrak stormloop en netjies verpakte poeiertjies en blaartjies en olietjies in jou mandjie prop, en wonder hoe jy daardie grasgroen poeier in jou tee ingeroer gaan kry en nog boonop in jou keel af gaan moet gooi.....So terloops - 'n teelepel rooi peper kan nie droog afgesluk word sonder dat jy voor die poorte van die doderyk te lande kom nie! Wees dus gewaarsku!


'n Kundige het nou die dag my uit my "Pilste" beswyming geruk toe hy my so ewe meedeel dat my mandjie vol beloftes vir 'n inflammasie-vrye toekoms net sowel 'n boksie smarties kon gewees het.  My hele maand se begroting land elke oggend direk in my dermkanaal, deel hy my meë.  Maar hoekom het ek dan begin beter voel, wil ek toe weet? En hy speel die bal so reg in my sielsgenoot se baan in - dit is alles glo in die kop.  Jou vrou se kop raas! Baie erg! Wees dus gewaarsku!


Hoe nou gemaak? Miskien moet ek dan nou maar die veelkleurige smarties probeer ... kan tog mos nie skade doen nie ... en dis heerlik soet en die affêre kan 'n lekker kleurvolle speletjie raak. Maandae sluk ek die blou ene (net om die Blou Maandag te fnuik), Dinsdae die groene (want die lewe is mooi), Woensdae die gele (want die son skyn in my hart), Donderdae die rooie (want ek het lief en mense het my lief), Vrydae die oranje ene (dis mooi helder en kondig die begin van die naweek aan), Saterdae sommer die pienk ene (want ek hou daarvan om vrouwees te vier), en dan die hoogtepunt - Sondae sluk jy sommer 'n hele handvol, want jou Koning Leef en Sy Woord en Waarheid maak jou vry!


Net 'n ernstige waarskuwing voor ek groet - enige diagnoses of rate wat in hierdie blog meegedeel is, is die skrywer se eie interpretasie en moet beslis nie as 'n betroubare mediese bron aangewend word nie. Die skrywer aanvaar dus geen aanspreeklikheid vir die Pil, Piller of Pilste wat in jou medisynekas te lande kom nie. 




Comments

  1. This comment has been removed by the author.

    ReplyDelete
  2. Lekker gelag. As ek enige medikasie neem op jou aanbeveling sal dit die smarties wees.... Want met hulle lyk dit vir my mens kan nie verkeerd gaan nie!

    ReplyDelete

Post a Comment