Die Masker Boutique


Vir die meeste van ons was 2020 'n anderster tipe jaar gewees - 

Die jaar van geen kuiers, geen drukkies, sosiale afstande, wag om geboue binne te gaan, alkoholdeurdrenkte hande en die verdoemende, uitmergelende, benoude masker.

Dan is daar diegene wat altyd die heel nuutste modegiere slaafs navolg en seker maak dat die masker by hulle uitrusting pas.  In die begin van die grendeltyd was dit bykans onmoontlik om maskers te bekom (nadat sommiges die rakke en mandjies met hulle paniekvergrypinge leeg gemaak het)!

Nou kan jy heel rustig, op jou eie tyd, met jou weeklikse beplanning vir watter uitrustings by watter geleenthede gedra gaan word, kies en keur wat die treffendse gaan lyk.

Ek wonder sommer nou so by myself of 2021 vir ons nuwe moontlikhede in die Intrepeneursbedryf kan teweeg bring. Wat van Masker Boutiques?

Ja ja...Wie nie waag nie sal nie wen nie!  Verstommend wat mens kan uitrig met die nommerpas kandidate wat 'n arm en 'n been sal betaal vir so 'n eksklusiewe bykomstigheid...

Dit het my ook 'n bietjie aan die dink gesit - die Masker Affêres...

Vroegoggend terwyl my bene vinnig wikkel in my oefenskoene en ek suinig is met my alleentyd saam met my Meester ... noem dit gesprekke ... dan bedink ek dinge, wonder oor dinge, vra vir dinge, maak klaar met dinge...

Dit is toe dat Galasiërs 5, die vrug van die Gees, en die Masker Boutique begin vorm aanneem in my vroegoggend gesprekke.  Eers moet ons die volgende vraag vra:  Waarom dra ons maskers in 2020? Om onsself en ander te beskerm natuurlik.  Hoe moet ek liefhê volgens die Bybel? In die eerste plek moet ek vir God lief wees met my hele hart, siel en verstand, en in die tweede plek my naaste soos myself. Ditsem! Die vrug van die Gees is dan met ander woorde 'n Masker - 'n baie vrugbare ene!

My Vrug masker moet nege definitiewe kenmerke hê om dit 'n Eksklusiewe Galasiërs Boutiquemasker te maak:  

Liefde - Onvoorwaardelik en Opofferend - Bloedrooi - Ons is duur gekoop!

Blydskap - Volkome - Verbly julle in die Here! Ek herhaal, verbly julle!

Vrede - Shalom - Volledig en Helend - Kom ons wees ware Brugbouers!

Lankmoedigheid - Verdraagsaam en Geduldig - 'n Windpomp in die Dorsland.

Vriendelikheid - Geurig, Lieflik, Aangenaam - Tot Eer van God!

Goedheid - Die Vriendelikheid gaan oor tot Aksie - Daad en Woord ontmoet.

Getrouheid - Glo en Hoop as Hoofbestanddele - God bly Altyd Getrou!

Sagmoedigheid - Nederig - Wat ek is is net Genade, Wat ek het is net Geleen...

Selfbeheersing - Vergeet die Tel tot Tien - Wees volmaak soos Vader in die Hemel!


Hoe lyk die virus waarteen ek myself moet beskerm? Dit is die "eie ek" wat op my eie tot niks goeds in staat is nie. Watter protokol moet ek volg om myself en my naaste daarteen te beskerm? Roep die Naam van die Ontwerper van die Vrugmasker aan! Bekeer jou van jou dubbelhartigheid! Immigreer na die Roete vir die Beloofde Land toe! Transformeer - Bly in die Waarheid wat jou waarlik sal vrymaak! Dra jou Vrugmasker met trots en bemark dit orals waar jy stap of vertoef.

Kom ons dink 'n bietjie eksklusief oor hierdie anderster jaar van 2020...

Die Meester Ontwerper en Verskaffer van Hemelse Boutique Vrug maskers sal diegene wat opreg daarna soek nooit uitwerp nie!    





Comments

  1. En dain is daar die res van die uitrusting - die Wapen(uit)rusting....

    ReplyDelete
  2. O ja. Verseker! Sal die Boutique Reeks moet uitbrei.

    ReplyDelete

Post a Comment