Binnehuisversierings


Party mense spandeer meer as hulle maandelikse inkomste aan name soos  

Jeep, Levi's, Gucci of adidas (let wel - met kleinlettertjies).

Selfs al sou die snit nou nie juis vleiend vir jou tempel wees nie -

Die naam is meer werd as die versiering ....


Dan kry ons diegene wat die binnekant van hulle huise met name soos

Leroy Merlin, Cielo, Vencasa of Carrol Boyes oorlaai ...


My binnehuise tempel het ook 'n verskeidenheid van versierings in plek ... 


Die pyn in my ribbekas en middel-rug moes ondersoek word -

Dit is wanneer moontlike galstene in 'n letsel op jou bynier verander en

jy opgeneem word in die hospitaal vir 'n deeglike skandering van kop tot tone.


# Dag 1:


Geen ontbyt nie -

Sulke skanderings word op 'n leë maag gedoen...

Jou kamer het 'n lieflike uitsig op "MacDonalds", en die skanderingsapparaat werk,

lyk my, beter in die middel van die dag ...


Die tannie van die patoloog kom met haar mandjie vol glasbuisies daar aan en tap

my aar so te sê dolleeg ...

Die dokter sê mens vat nie kanse met 'n omgesukkelde bynier nie.


Gelukkig het die vriendelike verpleegster my middagete gebêre, en ek kon dit net

betyds klaarmaak voor my aandete kom!


#Dag 2:


Weereens word ek met 'n honger maag geteister vir die MRI skandering wat

weereens in die middel van die dag sal plaasvind ...

Ek wonder of ek vir die MacDonalds standbeeld 'n "Mr. Delivery" nota kan stuur?


Ek is seker daardie radioloog probeer die marteltegnieke van die Middeleeue

naboots -

Eers drink ek flou "liquorice" water - ses glase vol ..

En dan een of ander arms-bokant-jou-kop tegniek, 

Gekombineer met 'n harde oppervlak wat jou hol rug nog holler laat voel,

'n Tonnel wat jou "claustrophobic" laat -

Afgerond met tok-tok en biep-biep geluide en die tannie wat sê:

"Asem in ... hou jou asem ... hou ... hou nog bietjie ... ontspan ..."


Terug in die saal...

My middagete wag vir my

Heerlik...

Die "chef" verdien beslis volpunte en my middagslapie is salig...

Totdat die "portier" van die radioloog weer voor my bed kom staan,

Rondte nommer twee het aangebreek!


Al weer? 

Nou raas die stemme in my kop!

Daar moet groot fout wees!

Ek lê verseker op sterwe!


Die hele martelsessie word herhaal en my pyndrempel bereik sy limiet!

Ek roep na my Here, en Hy verlig my "oortrokke" uithouvermoë ...

Dis verby! Dankie tog! En ek het darem nog bietjie asem oor vir 'n grappie -

Miskien kan ons 'n sittende MRI skanderingsapparaat ontwerp,

En die tok-tok en biep-biep met sagte strelende musiek vervang...


Nou weer om die hoekie sluip met daardie jassie -

Ja, die een wat jou van al jou waardigheid stroop!

Ek vind my pad terug saal toe - die keer verdwaal ek nie meer nie.


Die dokter kom doen sy rondtes met die goeie nuus -

Die sogenaamde vergroeisel is tien keer kleiner as wat dit gelyk het,

En totaal skadeloos!

Die bonus is natuurlik al die nuwe skadelose binnehuise tempelversierings wat

hulle ontdek het -

Die ovaal massa op my linker bynier

Die gelobte massa op my lewer

Die klein "angiomyolipoma" op my regter nier ...


My sielsgenoot wat vir my kom kuier het skuif tot teenaan my knieë,

Koppe sak laag en ons voorkoppe druk teen mekaar,

En hy dank ons Hemelse Koning vir die goeie nuus!

Ek kan huis toe gaan ... saam met my "brand" versierings ... 



Comments

  1. En na al die dinge het ons nuwe waardering vir die lewe (en ook die Groot Genade wat ons ontvang het)

    ReplyDelete
  2. So dankbaar saam met jou, liewe Antoinette!

    ReplyDelete
  3. Oe...dit is sulke goeie nuus! Prys die Here!! Aan Sy weldade is daar geen einde nie!

    ReplyDelete

Post a Comment